Drie kunswerke by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke vier die 110de bestaansjaar van die indrukwekkende Nasionale Vrouemonument wat op dieselfde terrein is.
Dr. Johan van Zÿl, bestuurder van museumgeesteswetenskaplikes by die museum, vertel dit sal Saterdag 16 Desember presies 110 jaar wees sedert die oud-presidentsvrou Rachel Isabella (Tibbie) Steyn die Nasionale Vrouemonument onthul het.
Sy het die monument namens Emily Hobhouse, voor ’n groot skare aanwesiges onthul omdat Hobhouse op pad na Bloemfontein siek geword het en nie die onthulling kon waarneem nie.
Van Zÿl sê hierdie monument was die eerste van sy soort, wat nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die wêreld, hulde gebring het aan die lyding van vroue en kinders in ’n oorlogsituasie.
Van Zÿl sê anders as die meeste monumente oorsee wat spreek van oordadigheid wat styl en ontwerp betref, is dit juis in die eenvoud van ontwerp waarin die piëteit en trefkrag van hierdie monument lê.
“Tereg kom die argitek, Frans Soff en beeldhouer, Anton van Wouw se ontwerpe in harmonie na vore, maar dit eers nadat Emily Hobhouse bepaalde voorstelle hieroor gemaak het, dat ’n eg Suid-Afrikaanse meesterstuk geskep is,” verduidelik hy.
Die Oorlogsmuseum herdenk op 16 Desember by wyse van drie spesiale kunswerke wat vir hierdie geleentheid geskep is, die 110-jarige bestaan van die Nasionale Vrouemonument.
Die eerste hiervan is ’n skildery van 1,8 x 1,8 meter wat op versoek van die museum deur die kunstenaar Frances Wedepohl geskep is. Haar werk herinner sterk aan die bekende skilder Hendrik Pierneef, maar met ’n effense Tiffany-loodglas-effek wat hierin reflekteer. Hierdie werk is van vandag af op uitstalling by die museum.
Saam daarmee verskyn twee aanhalings uit die toesprake van Emily Hobhouse, asook pres. M.T. Steyn wat tydens die onthulling van die monument deur Rocco de Villiers voorgelees is.
Die tweede kunswerk, ’n miniatuur in brons van die sentrale beeldegroep van die Nasionale Vrouemonument, is deur die kunstenaar, Joe Pelser gegiet en aan die museum geskenk. Die kunswerk is uniek in die sin dat tegnologie gebruik is om die beeldegroep oor twee dae af te neem waarna ’n gietvorm geskep is en die beeldjie gegiet is. Dit is veral met hierdie beeldegroep waar Emily haar stempel afgedruk het nadat sy Van Wouw se eerste ontwerp as “leweloos en oninspirerend” bestempel het.
Die beeldegroep beeld ’n toneeltjie uit wat Hobhouse tydens die oorlog op die Springfontein-treinstasie waargeneem het. Dit was van ’n groep vroue en kinders, afkomstig vanaf Dewetsdorp en Reddersburg en wat op pad was na die Bethulie-konsentrasiekamp. Dit was veral ’n toneel van ’n sterwende kind op haar moeder se skoot en ’n vriendin wat haar troos, wat Hobhouse aangegryp het en wat hierna deur Van Wouw in brons uitgebeeld is.
Die derde kunswerk wat deel van die viering vorm, is ’n lourierkrans van brons wat op die graf van oudpresident M.T. Steyn by die monument aangebring is.
Volgens rekords is hierdie krans ’n geskenk vanaf die Nederlandse volk aan Suid-Afrika uit erkenning vir die historiese band tussen die voormalige Republiek van die Oranje-Vrystaat en Nederland. Ongelukkig het die argiewe van die Nasionale Vrouemonument verlore geraak en is daar nie veel oor die kransie bekend nie.
Wat wel uit foto’s duidelik is, is dat dit in 1938 op die graf van pres. Steyn aangebring was.
Van Zÿl sê in die jaar 2000 is die kransie, asook letterwerk en bronsplate op die grafte van Steyn, Kestell en De Wet by die Vrouemonument gesteel.
“Hoewel die drie bronsplate teruggevind is, is die krans nooit gevind nie. In 2023 het Pelser ’n soortgelyke krans geskep en aan die museum geskenk. Hierdie krans is intussen op Steyn se graf aangebring en vorm nou deel van die monument se 110-jarige viering.”