Die Vrystaat-atletiekstadion in Bloemfontein mag tot verdere kennisgewing geen sportbyeenkomste aanbied nie. Dit volg op ernstige kommer oor strukturele probleme by dié stadion. Die Mangaung-metro, wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die stadion sowel as die omliggende infrastruktuur, het versuim om die stadion volgens nasionale standaarde vir sportbyeenkomste te onderhou.
Die stadion het reeds op 31 Desember 2023 sy internasionale akkreditasie verloor.

Odessa Swarts, voorsitter van baan-en velditems Atletiek Vrystaat, sê daar is in November verlede jaar drie stutte onder die oorhang-paviljoen opgerig vir bykomende stabiliteit. “Die ingenieur was al hier en ons het gedink dit is ‘n tydelike oplossing totdat herstelwerk hier gedoen word, maar tot nou is niks gedoen nie,” sê sy.
Die atletiekbaan self is ook buite spesifikasie. Die tartan-oppervlak, wat elke tien jaar vervang moet word, is reeds twee jaar oor sy vervaldatum. Gevolglik word geen rekords wat hier opgestel word internasionaal erken nie – ’n groot nadeel vir topatlete soos Wayde van Niekerk en Rumé Burger wat plaaslik rekordtye aangeteken het.
“Ons kon ook geen uitstel van Atletiek Suid-Afrika kry nie, vanweë die swak toestand van die baan,” voeg sy by. Sy waarsku dat Sasolburg se baan se tienjaar-akkreditasie in 2026 verval. “As dit nie betyds oorgedoen word nie, sal die Vrystaat vroeg volgende jaar geen geakkrediteerde baan hê waarop byeenkomste aangebied kan word nie.”

Volgens Werner Pretorius, ’n DA-lid van die Vrystaatse wetgewer, sal kinders nog wel op die stadion mag oefen, maar geen amptelike byeenkomste mag plaasvind nie.
Pretorius sê die stadsbestuurder, Sello More, het twee weke gelede voor die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur verskyn en bevestig dat R26 miljoen benodig word om die stadion aan standaard te bring.
Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) in die Vrystaat, Saki Mokoena, het in antwoord op ’n navraag van Pretorius gesê die Ramprisikobestuur kon nie ’n veiligheidsgradering aan die stadion toeken nie weens verskeie risiko’s vir toeskouers.
Pretorius lys verskeie probleme, onder andere:
- Strukturele skade aan die paviljoen
- ’n Tartaanbaan wat dringend vervang moet word
- Probleme met die tydhoustelsel
- ’n Gebrek aan voldoende badkamergeriewe vir kinders wat opwarm
- Aanhoudende diefstal van ligte
- En die oorhoofse spreilig aan die Loch Logan Waterfront-kant wat al geruime tyd buite werking is.
Volgens Mokoena sal die opgradering van veldgeriewe soos die hoogspring-, gewigstoot-, diskus- en spiesgooi-bane, asook die byvoeging van sitplekke vir toeskouers, sowat R1,5 miljoen kos.
Swarts sê hulle is moedeloos omdat daar geen duidelikheid is oor wanneer die stadion weer ten volle funksioneel sal wees nie.
“Skole soos Oranje, Grey en Jim Fouché hou jaarliks groot atletiekbyeenkomste en nooi skole van regoor die land heen. Ons kan nie vir hulle antwoorde gee oor of dit sal kan plaasvind nie. Dit is onregverdig teenoor dié skole se leerlinge, borge en ouers van ander skole wat hierheen moet reis,” sê sy.
Die toestand van die Vrystaat-atletiekstadion bly dus ’n ernstige bekommernis – en die toekoms van grootskaalse sportbyeenkomste in die streek is onseker.




You must be logged in to post a comment.