Die Vrystaat Kunstefees begin môre (2 Julie) in Bloemfontein met hope vermaak vir oud en jonk.
Dit is die perfekte week om die teater te besoek en kuns in alle vorme in te drink.
Teaterliefhebbers in die Vrystaat kan veral uitsien na vele teaterproduksies wat hierdie jaar by die KKNK gedebuteer het en nou by die Vrystaat Kunstefees te sien is..
Hoogtepunte sluit in Die stoele met Antoinette Kellermann, Chris van Niekerk en Lindokuhle Melaphi, ’n tragikomedie wat na afloop van die KKNK met drie Kannas bekroon is. Jana Cilliers is te sien in die drama Veelhoek, saam met Ludwig Binge. Sy het die teks self geskryf en Veelhoek is vir twee Kannas benoem. Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan is ’n satire uit die KKNK se Teksmark-projek met Sandra Prinsloo en David Viviers, geskryf deur Henque Heymans.
Nog tekste uit die KKNK se Teksmark op die planke, is die debuut van Sibahle Mabaso se Khanya and Her Golden Dream, asook Henriëtta Gryffenberg se tragikomedie 1 (een).
Ander debute van die KKNK in 2024 sluit in: Die komedie Ouma is op pad met Margit Meyer-Rödenbeck en Coenraad Rall op klavier, Jak de Priester se musiekproduksie Hartkamer, Elzabé Zietsman en Tony Bentel se Kanna-bekroonde kabaret Vier Panado’s en ’n Chardonnay en vir jong gehore Liewe Heksie vang vis met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl.
Die eerste vertonings begin reeds vanaand met Joseph Clarke – The Music of Queen- in die Kopanong-ouditorium.
Môre open die Kunstemark, boek- en paneelbesprekings as deel van die Literatuurfees, teaterproduksies en kinderteater, asook die vrynge en visuele kunsuitstallings is van môre af op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat te sien.
Toegang beloop R30 per dag en is saam met kaartjies vir vertonings beskikbaar op Webtickets of op die webwerf vrystaatkunstefees.co.za.


