Marietjie Langenhoven en haar dogter Annabel Marais in die ATKV-Boeke-oase in die Eeufeessentrum.Foto: Lientjie Mentz


Daar is net een plek om vandag laatmiddag en aand of môre heeldag deur te bring – die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat waar die Vrystaat Kunstefees nog tot môre (08/10) aangebied word.

Daar is nog heelwat vertonings en besprekings op die program en ’n menigte stalletjies in die Eksamensentrum waardeur besoekers kan drentel.

Kry ook iets koel vir die keel en iets te ete – van roomys tot plaaslik vervaardigde jenewer.

Van die vertonings waarna feesgangers nog vandag kan uitsien, is dié van Koos Kombuis om 17:00 en Macabre om 20:00. Macabre is ’n vertoning wat tegelyk lewend en virtueel aangebied word.

Die vertoning is ’n plek-spesifieke sielkundige spanningstog wat klein gehore saam nooi vir ’n besonderse ervaring.

Van die vertonings waarna besoekers môre kan uitsien, is Geen Teks om 12:30. Dit is ’n vertoning deur Brendon Daniels en Doen Lotz oor daardie oomblikke waarop daar niks is om te sê nie. Dit verskil van mens tot mens. Geen Teks is ’n komedie rondom die dinge wat ons wil sê, maar nie sê nie.

Ook die komedie Kamp met dieselfde twee akteurs, sal die gehoor se lagspiere prikkel. Twee mans gaan kamp – om weg te kom van alles en deel te word van die natuur. Almal weet egter kamp is nie altyd maanskyn en rose nie – dinge loop soms maar lekker verkeerd.

Toegang tot die feesterrein kos R20 en is by die hek betaalbaar. Kaartjies vir vertonings is beskikbaar by Pick n Pay of op webtickets.co.za of besoek die kaartjiekantoor in die Eksamensentrum (heel onder links in eksamenlokaal 7).

You need to be Logged In to leave a comment.