Ná die suksesvolle Minimark wat in Julie deur die Vrystaat Kunstefees aangebied is, is die hooffees wat in die vakansie in Oktober gaan plaasvind, Woensdag (03/08) op ’n geselligheid by Prellerplein bekend gestel.
Die program vir die fees wat van 2 tot 8 Oktober op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat aangebied gaan word, is reeds op die webblad beskikbaar.
Corneli van den Berg, feesdirekteur, sê dit was lekker om tydens die bekendstelling saam te kuier. “Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoeveel belangstelling daar nog in die kunste in die Vrystaat is.”
Sy sê die feeskomitee is besonder dankbaar oor die ondersteuning wat hulle van borge, vennote en donateurs kry om seker te maak dat kunste in die Vrystaat ten spyte van die laaste twee jaar sal bly groei.
“Die Minimark in Julie was ’n toetslopie en ons glo die fees in Oktober gaan ’n groot sukses wees,” sê sy.
Sy sê een van die besonderse kenmerke van die fees is die internasionale teenwoordigheid soos die betrokkenheid van die Vlaamse regering in die produksie En die reën het saggies geval – met Suid-Afrikaanse akteurs en ’n Belgiese teatermaker wat die regie hanteer.
Tydens die hooffees gaan daar teater- en musiekproduksies, lewende en interdissiplinêre kuns, visuele kuns, ’n filmfees en literatuurfees sowel as Vrynge-produksies en snelstroomproduksies wees.
Van die teaterproduksies waarna feesgangers kan uitsien, is die verwerking van Rudie van Rensburg se boek Hans steek die Rubicon oor in ’n komedie vir die verhoog met Charlie Bougeunon.
Musiekproduksies sluit in ’n Aand met Elvis Blue, Die maan deur ’n gaatjie in die nag met Jannie du Toit, Jak de Priester wat 20 jaar ná Sally Williams Nougat steeds bekoor en Dan Patlansky met sy wonderlike blues-rock.
Daar is meer as 50 besprekings van boeke en relevante temas wat tydens die fees boekwurms gaan boei.
De Villiers Brink, voorsitter van die Vrystaat Kunstefees, sê alles waaraan Vrystaters die laaste 22 jaar gewoond geraak het, is terug.
Aan die kunstefeesspan het hy groot lof gebring. “Julle het die Covid-storm oorleef en nou kan ons weer die fees van krag tot krag laat gaan.”
Aan die kunstefeesspan het hy groot lof gebring. “Julle het die Covid-storm oorleef en nou kan ons weer die fees van krag tot krag laat gaan.”
Gert Coetzee, Volksblad-redakteur verwelkom die Vrystaat Kunstefees terug nadat dit vir twee jaar aanlyn moes plaasvind. “Een fees in vele gewade. En een gewaad vir baie feeste. Oor alle kunsgenres heen. Wat ’n heerlikheid om na meer as twee jaar weer uit te sien.”
Die hoofbestuurder van Sentraal24, waarvan Bloemnuus deel is, Jeannine van Zyl, is opgewonde oor die fees wat voorlê.
“Sentraal24 sien uit om na afloop van die Minimark in Julie weer betrokke te wees by die hooffees in Oktober. Die spreekwoord van Een Fees, baie stories is voorwaar iets om na uit te sien.”
Sy sê lesers kan gerus Sentraal24 se gemeenskapskoerante asook die digitale media van dié koerante op Netwerk24 dophou vir meer oor die fees. “Dit gaan ’n fees wees popvol aanbiedinge,” sê sy.
Welkom terug, Vrystaat Kunstefees!