Die Vrystaters het die Pluimbal nasionale individuele- en spankompetisie vanaf 11 tot 18 Oktober in Bloemfontein oorheers.
Die kampioenskap wat by die Fichardtpark-sportlub beslis is, was ‘n voortsetting van ‘n patroon van die afgelope twee dekades met die Vrystaters wat uitblink.
Met spelers soos Nita Scholtz-Albertse en Caden Kakora wat nou die enkelsspelkampioene in Suid Afrika is en ook dubbelspel en gemengde dubbelspel op die hoogste vlak kan speel, is dit te verstane hoekom die Vrystaters uitblink. Daarby is daar nog Elme de Villiers (ook die nasionale kaptein) en Chris Dednam met hulle magdom ondervinding, Anicka Nel wat as junior vir Suid-Afrika gespeel het en nou terugkeer na die spel, en dan Francois Claasen wat sy potensiaal begin bereik, kan dit nie anders wees nie.
Ironies genoeg was dit slegs die Vrystaat se B-span en dan die uiteindelike naaswenners Oos-Gauteng waaraan Vrystaat se A-span ‘n punt kon afstaan in die groepwedstryde.
In die finaal het Oos-Gauteng egter goed geveg, maar Vrystaat het steeds die finaal 3-0 gewen.
In die individuele kampioenskappe het Nita teen Elme gespeel in die vroue-finaal en hoewel Elme goed vertoon het, was die Olimpiese speler eenvoudig net ‘n vlak hoër.
Caden was in die mansenkelspel baas.
Nita en Caden het ook die dubbelstitel gemaklik gewen, met Nita wat saam met haar Akrika-kampioen maat, Amy Ackerman saamgespan het. Caden het saam met sy ou Bloemfonteinse en Vrystaatse spanmaat, Robert Summers gewen.
Robert is nou in Kimberley nadat hy sy studies voltooi het. In die gemengde dubbels moes Nita en Caden wat saam gespeel het egter die knie buig teen die gemeng spesialiste van Robert en Amy.
Johan Kleingeld, die sameroeper van die toernooi, sê die kampioekappe was ‘n reuse-sukses met prysgeld van meer as R42 000.
Caden en Nita het elk R10 000 vir hul Suid-Afrikaanse enkelpeltitels gewen.
Talle van dié spelers het Vrydag en Saterdag in Mimosa Mall pluimbal gespeel om die spel aan die publiek te vertoon.
Die finaal van die individuele en spankompetisie is direk op DiscoverySport se kanale uitgesaai.


