Meisies van die Vrystaat het uitgeblink met twee fantastiese eerste plekke in die I AM World Championship of Majorette wat van 18 tot 21 Julie in Agen, Frankryk, aangebied is.
Die Vrystaters vorm saam met trompoppies van Noordwes en Kwa-Zulu-Natal die Sentraal-streek.
Die span is in die junior-afdeling se junior Mix Mini-span as wêreldkampioene aangewys. Die junior spanne het daarby nog drie tweede plekke in verskillende items behaal.
Ook die senior Mix Mini-span is weer as wêreldkampioene aangewys – dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat dié trofee Vrystaat toe kom.
Die senior meisies het ook vier derde plekke en ’n vierde plek behaal. Kay-leigh Liddle was vyfde in die solo staf-nommer.
Die span van die Federation of Dance Drill, Cheerleading & Majorette Sport Suid-Afrika was een van vyf lande wat aan die I AM Wêreldkampioenskap deelgeneem het. Suid-Afrika is in drie streke verdeel – noord, suid en sentraal.