Die Vrystaat spog vanjaar ’n vyfde keer agtereenvolgens met die topplek in die matriek-uitslae in Suid-Afrika.
Boonop het vanjaar se matrieks die beste tot nog toe gevaar, met ’n slaagsyfer van 89% tenoor die vorige jaar se 88,8%; 2021 se 85,7%; 2020 se 85,1%; en 88,4% in 2019.
Die Vrystaters het dus baie waarop hulle trots kan wees.
Leerlinge oor Suid-Afrika heen kon vanoggend hul uitslae vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen by hul skool gaan haal.
Drie Bloemfonteiners spog met plekke in die top 10 in die provinsie. Hulle was onder die 100 toppresteerders in die provinsie wat genooi is na vanoggend se geselligheid in die Boet Troskie-saal op die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), waar hulle deur die premier, Mxolisi Dukwana, en die LUR vir onderwys in die Vrystaat, Makalo Mohale, gelukgewens is.
Die provinsie se topleerling is Neo Mosikili van die Selelekela Secondary School in Phuthaditjhaba. Hy was ook gisteraand op die nasionale departement van onderwys se geselligheid, waar die land se topleerlinge deur minister Angie Motshekga gelukgewens is.
Mosikili het onderskeidings in al sy vakke en 100% in wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap en geografie behaal. In Sotho eerste taal het hy 86%, in Engels eerste addisionele taal het hy 94% en in lewenswetenskap het hy 98% behaal.
Die uitblinkers in Bloemfontein is Lara Potgieter van die Hoër Meisieskool Oranje, met nege onderskeidings; Riaz Nabeel Seedat van die St Andrew’s School, met agt onderskeidings; en Cara Stevens van die Eunice High School met agt onderskeidings. Sy het 100% in wiskunde behaal.
Tydens sy toespraak het Mohale gesê 47 skole in die Vrystaat spog met ’n 100%-slaagsyfer.
Hy sê mense moet nie paniekerig raak oor die swak prestasie van leerlinge in laer grade soos vroeër die week berig is nie.
“Die departement het talle ingrypings ingestel, en ons werk hard om tyd wat weens Covid-19 verlore geraak het in te haal,” het hy gesê.
Hy sê sy departement het talle nuwe vakke bygevoeg om leerlinge geleenthede te gee, selfs al kan hulle hulself nie inskryf vir hoër onderrig nie.
“Ons wil vir leerlinge geleenthede skep,” het hy gesê.
Verder sê hy die getal leerlinge wat wiskunde neem, word ook ingevolge die nasionale plan vermeerder.
“Die provinsie gaan voort om skole met 80 of meer leerlinge wat wiskunde neem te beloon.”
Bloemfonteinse skole wat onder die tien topskole in wiskunde was en dus elk R100 000 van die departement van onderwys ontvang, is: die Hoër Meisieskool Oranje, die Eunice High School, die Hoërskool Jim Fouché en Grey-kollege. Eunice is die skool wat die beste presteer het in wiskunde en wetenskap in die provinsie.