Vrystaatse senior pluimbalspelers het die afgelope paar dekades so oorheers, dat hulle al die aandag kry en die prestasies van jonger en ouer spelers oorskadu word.
’n Goeie voorbeeld hiervan is dat die Vrystaat se beste vroue die afgelope dekade omtrent elke keer die Suid-Afrikaanse enkelspeltitel gewen het en met die Olimpiese speler Nita Scholtz-Albertse aan die spits, gaan dit nog vir lank so bly.
Daar is egter spelers van ander ouderdomsgroepe wat ook uitblink. Een daarvan is Ina Bezuidenhout wat die Suid-Afrikaanse Diamant Kampioenskappe vir spelers 70 jaar en ouer van 3 tot 8 November in Kimberley gewen het. Dit is die laaste Suid-Afrikaanse kampioenskap vir die jaar.
Bezuidenhout het die vorige kampioen van die Westelike Provinsie (WP), Lollie Hensman, 21-10, 21-11 in die eindstryd geklop.
Twee jong spelers, Marlie Dednam en Danel Wise, speel in die jongste ouderdomsgroep in Suid-Afrikaanse pluimbal. Die twee het vroeër vanjaar in die o.9-kampioenskap die dubbelspel gewen.
Die Vrystaat het op die toernooi in Kimberley goed gevaar en buiten Bezuidenhout wat die enkelspel gewen het, het sy ook saam met Magda de Beer die eindstryd van die dubblespel gehaal.
Peewee Labuschagne het ook ’n uitstekende week beleef en in al drie eindstryde gespeel. In die enkelspel het hy teen die wêreldkampioen in die ouderdomsgroep, Johan Croukamp, vasgeval; in die gemengde spel het hy saam met sy Vrystaat-spanmaat Alida Schutte verloor. In die dubbelspel was hy saam met Dawid Coetzee van Bloemfontein aan die wenkant, maar weens ’n tegniese reël kan hulle nie die titel eis nie.
Die Vrystaat het in die spankompetisie ook goed vertoon en slegs gelyk gespeel teen KwaZulu-Natal, maar vir die WP, Noord-Kaap, Gauteng en Noordwes geklop.