Die Vrystaat-span wat die trofee op die Suid-Afrikaanse veterane-pluimbalkampioenskapsbyeenkoms in Oos-Londen gewen het, is van links Karen Coetzer (Suid-Afrikaanse Veterane-komitee), Jolene du Plessis, Cyntia Spies, Soné Janse van Rensburg, Johan Kleingeld, Chris Dednam, Elaine Dednam, Roelof Dednam en Vian Bester.Foto: Verskaf


Die Vrystaat spog al baie jare met sterk pluimbalspelers, waarvan talle nou mededingend in die provinsiale veteranespan speel. Van hulle het al internasionaal meegeding.

Die Vrystaters se ervaring het handig te pas gekom om die spantrofee te wen op die Suid-Afrikaanse veterane-kampioenskapsbyeenkoms, wat van 12 tot 18 Augustus in Oos-Londen beslis is.

Verskeie spelers van weleer het vanjaar ’n eerste keer in dié veteranespan (met spelers ouer as 35 jaar) gespeel, en hiermee het die Vrystaatspan heeltemal te veel skietgoed gehad vir die ander provinsies.

Die nuwelinge was Olimpiese speler Roelof Dednam en sy vrou, Elaine, wat al vir die Vrystaatse senior span gespeel het, asook Soné Janse van Rensburg, wat in haar jong dae vir Suid-Afrika se junior spanne gespeel het.

Hulle drie was die uitblinkers in die span.

Die span was reeds sterk met Chris Dednam, ook ’n ou Olimpiese speler wat nou in sy tweede veterane-kampioenskap gespeel het.

Jolene du Plessis het in hierdie byeenkoms as die speler van die toernooi vir die Vrystaat na vore getree, en het ’n groot bydrae tot die sukses van die span gelewer.

Die Vrystaatspan het Grens 5-2, Noord-Gauteng 5-2, die Oostelike Provinsie 6-1, Westelike Provinsie 5-2 en Boland 4-3 gewen.

In die individuele kompetisie het die Dednam-broers verspot maklik die dubbelspeltitel gewen. Chris het ook silwer in die enkelspel en gemengde enkelspel saam met Janse van Rensburg gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.