’n Hartverskeurende tragedie.
So sê Louisa Botha, gewese administrateursvrou, oor Vrystaathuis wat Donderdag (23/03) in ’n brand gedeeltelik in puin gelê is.
“Ek voel vandag soos daardie huis lyk,” sê sy oor die huis in Bloemfontein waar sy en haar man, Louis, van einde 1980 tot einde September 1991 gewoon het.
“Dit was regtig ’n voorreg en groot vreugde om daar te kon woon. Die hartseer oor wat gebeur het, skaaf so ’n bietjie aan my mooi herinneringe.”
Botha is waarskynlik die enigste oorlewende van die vorige administrateursegpare wat inwoners was van die huis uit die termyn van Sand du Plessis (1959 tot 1969).
“Dit is ’n hartverskeurende tragedie. Ek verstaan net die klavier en die eetkamerstel op die grondvloer is nie beskadig nie. Daar was glo nie meer ’n mat op die vloer nie. Die Persiese tapyte was onvervangbaar. Alles is weg. Ek kan huil hieroor.”
Botha, wat deesdae in Stellenbosch woon, sê die huis en sy inhoud was “miljoene der miljoene” werd. Dit gaan moeilik wees om dit te vervang.
Behalwe die duursame en mooi Persiese matte onthou sy die pragtige skilderye. Benewens die gesteelde Pierneef-skildery, wat in premier Ace Magashule se tyd in die nuus was, was daar skilderye van kunstenaars soos Gregoire Boonzaier, Gabriel de Jongh en Dawid Botha.
Die kombuis was baie goed toegerus met van die beste porselein.
Botha sê sy het besluit Vrystaathuis moes die mees gasvrye plek in die provinsie wees omdat Vrystaters sulke gasvrye mense is.
“Ek het elke jaar 2 000 mense ontvang en seker 40 geleenthede per jaar in die huis aangebied.
“Ek het moeite gedoen dat die huis vir die publiek toeganklik moes wees. Daar is baie geldinsamelings soos vir Kindersorg en KANSA gehou.
“Ons het die huis regtig ten bate van die Vrystaat aangewend. Ek het altyd gesê ek is die ‘grootste eenman-welsynsorganisasie’ in die land. Mense het blommerangskikkings, juweliersware, handewerk en borduurwerk kom uitstal. Sodat die publiek die huis kon sien en ervaar.”
Een oggend het sy Die Toktokkies van Heidedal ontvang. ’n Meneer Delport het by die deur gestaan en oor Bloemfontein uitgekyk.
“Toe sê hy: ‘Alles is net van die beste, tot die lug is skoon.’ Alles van die beste het nou weggebrand. Net die eetkamerstel en klavier is oor, en twee stoele wat uit my tyd kom.”
Botha sê Vrystaathuis was baie groot. Sy kon 100 mense by tafels laat aansit met wat in die huis was. Die eetgerei van egte silwer het 72 van alles gehad.
“Ek ken die inventaris nog uit my kop. Ek kan die rooi mat in die eetkamer onthou wat 12 x 17 voet groot was. Eastern Carpets, wat die matte skoongemaak het, het gesê dit was ’n buitengewoon goeie versameling.
“Dat so ’n ding moes gebeur . . . Die geraamte gaan nou jare so staan. Daar is nie geld om dit te herbou nie.”
Sy sê daar was beslis in hul tyd ’n brandalarm in die huis wat baie sensitief vir rook was.
- “Instandhouding was baie goed en gereeld. In ’n stadium is die stof op die plafon met ’n kompressor van die spoorweë afgeblaas en dit het twee dae geneem.” Die oorsaak van die brand word nog deur deskundiges ondersoek.