Vrystaatse matrieks (weer) bo

Nommer een!.


Chané Nel, top akademiese presteerder, en Tlotliso Mofokeng (18), topleerling uit ’n voorheen benadeelde skool, Vrydag saam met dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys. Foto: Mlungisi Louw

Nommer een!

Só het Vrystaatse premier Sisi Ntombela Vrydag (21/01) met die provinsie se matriekklas van 2021 gespog.

Dit is die derde jaar agtereenvolgens dat die Vrystaat die beste matriekuitslae in die land behaal.

Met ’n slaagsyfer van 85,7% het die provinsie se matrieks boonop 0,6% beter as in 2020 gevaar.

In die afgelope nege jaar was die Vrystaat se uitslae ses keer die beste in die land.

Op die departement van onderwys se gelukwensingsplegtigheid, wat Vrydag in die Boet Troskie-saal op die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) aangebied is, is die provinsie se 100 topmatrikulante geluk gewens.

Skoolhoofde, 130 topleerlinge en verteenwoordigers van die Vrystaat se distrikte het die geleentheid bygewoon.

Die Hoër Meisieskool Oranje het groot rede om fees te vier nadat Chané Nel, met ’n gemiddeld van 96,5%, as die beste akademiese presteerder in die Vrystaat aangewys is.

Chané, wat met nege onderskeidings spog, het onder meer 100% vir Duits (tweede addisionele taal), 99% vir wiskunde en 98% vir fisiese wetenskap en rekeningkunde behaal.

Bloemfonteinse skole wat onder die provinsie se tien topskole tel wat wiskunde betref, is Oranje, die Eunice High School, die Hoërskool Jim Fouché en die Hoërskool Sentraal. As beloning ontvang al tien skole R100 000 van die departement van onderwys.

Die St. Michael-skool is een van slegs twee skole in die provinsie wat ’n 100%-slaagsyfer en 100%-universiteitsvrystelling behaal het.

  • Die Motheo-distrik, waarvan Bloemfontein deel is, het die beste in die Vrystaat gevaar, en tweede in die land naas Tswane-Suid in Gauteng. Motheo se slaagsyfer het met 2,53% na 87,9% verbeter.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.