Vrystaatse regsman ’n top-skut met kettie

Topskuts het Saterdag 3 Februarie meegeding in die Vrystaatse Ope-kettieskietkampioenskap wat by Bobbiespark beslis is.


Topskuts het Saterdag 3 Februarie meegeding in die Vrystaatse Ope-kettieskietkampioenskap wat by Bobbiespark beslis is.

Dié skuts klits ’n teiken so groot soos ’n piering en veel kleiner op 20 m om. Adv. Vic de De Bruyn, senior staatsaanklaer in die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in die Vrystaat het die silwermedalje as die algehele naasbeste skut ontvang nadat hy ook die naasbeste skut in die senior afdeling vir mans was.

De Bruyn is ook ’n tweekamp-atleet en ywerige geweerskut wat al die afgelope twee jaar met ’n kettie skiet.

“Ek skiet bloot vir ontspanning teiken met ’n kettie. Dit laat jou vergeet van al die drama by die werk,” sê hy.

Adv. Danie Pretorius, sy kollega by die DOV, het die bronsmedalje in die senior mansafdeling losgeskiet. Sy seun, Niel Pretorius, is die president van die Suid-Afrikaanse Kettieskietfederasie, wat die byeenkoms die naweek aangebied het.

Sowat 35 skuts het by die Bobbiespark-sportkompleks saamgetrek vir die eerste Vrystaatse Ope-kampioenskap vir kettieskiet. Soortgelyke kampioenskappe gaan in elke provinsie gehou word.

Darius van Zyl (17), ’n matriekleerling van eMkhondo (Piet Retief) in Mpumalanga, het die goue medalje as die eerste Vrystaatse Ope-kettieskietkampioen verower. Sy pa, Duard, het die bronsmedalje gewen.

Gerrie Killian (21), ook van eMkhondo, is as die vroue-kampioenskut gekroon. Die Piet Retief Meerkette-kettieskietklub het ’n hele paar deelnemers aan die Vrystaatse Ope-kampioenskap gehad.

Janco Pheiffre (9) van Grey-kollege (primêr) het die seunsafdeling in die ouderdomsgroep vir o. 13’s gewen.

Kaelynn Barnard (11) van die Eunice Primary School was die kampioenskut vir meisies o. 13. Die sussies Annemé (10) en Miané Bekker (12), van onderskeidelik die Laer en Hoër Meisieskool Oranje, het saam in dié ouderdomsgroep meegeding. Miané het die silwermedalje gewen en Annemé die brons.

Niel Pretorius sê hulle is by die World Slingshot Associa­tion ingeskakel. Hulle probeer daarvan ’n professionele sport in Suid-Afrika maak.

Die volgende kampioenskap word in die Noord-Kaap aangebied. Deelnemers kan klubs stig en ook individueel inskryf.

Die kompetisies word oor afstande van 10 m, 15 m en 20 m beslis waar elke skut tien 8 mm-staalballetjies kry om binne vyf minute na tien teikens te skiet wat van groot na klein wissel, met die meeste punte vir die klein teikens. Daar is gewoonlik ook ’n veld-nommer.

  • “Die nuwegenerasie-ketties is baie gevorderd vergeleke met die ou ketties met mikstokke en haasrek waarmee ons as kinders geskiet het,” sê Pretorius. Lees meer oor die sport by www.sasling­shot.co.za.


Charles Smit

You need to be Logged In to leave a comment.