Armand Cloete tydens ’n vorige sitting van die Vrystaatse Wetgewer.Foto: Facebook


’n Sitting van die Vrystaatse Wetgewer kon Dinsdag nie voortgaan nie, omdat die ampstaf nie uit die kluis gehaal kon word nie.

Armand Cloete VF Plus-wetgewerlid verduidelik dit is ’n instelling dat die ampstaf volgens die Vrystaatse Wetgewer se reëls en ordes altyd tydens ’n sitting teenwoordig moet wees.

Die staf word in ’n kluis toegesluit en word uitgehaal met elke sitting, maar die amptenaar verantwoordelik daarvoor was uitstedig en die geskeduleerde sitting kon nie voortgaan nie.

“Die Vrystaat het ‘n nuwe laagtepunt bereik toe die provinsiale wetgewer nie ‘n geskeduleerde sitting kon hou nie weens die ANC se blatante gebrek aan professionaliteit.

“Hierdie nalatigheid het veroorsaak dat ‘n belangrike sitting heeltemal gekanselleer moes word. Die mandaat moes volgens reëls Dinsdag 11:00 by die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) wees vir Woensdag se sitting van die NRP.”

Cloete sê daar was wel ‘n mandaat om te stem oor die  wysigingswetsontwerp op die verdeling van inkomste, maar dit is volgens hom nie amptelik goedgekeur nie.

Cloete sê dit  toon die onprofessionele wyse waarop sake in die provinsie hanteer word.

Hy sê die VF Plus het tydens ? swepevergadering daarop aangedring dat hierdie voorval deeglik ondersoek word en dat dissiplinêre stappe teen die verantwoordelike amptenare geneem word.

Die wetgewer, wat onder meer toesig moet hou oor die provinsiale regering, is veronderstel om ? toonbeeld van professionaliteit en verantwoordbaarheid te wees.

”Die gebeure skaad die geloofwaardigheid van hierdie instelling. Dit is veronderstel om die een instansie in die provinsie te wees wat goed funksioneer.”

Cloete sê onder die ANC het die Vrystaatse Wetgewer die afgelope maande, sedert die verkiesing, verval tot ? instansie wat die week die laagste punt in die geskiedenis daarvan bereik het. En dit weens blatante nalatigheid.

“Hierdie voorval illustreer die ANC se totale gebrek aan vermoë om doeltreffend te regeer, selfs in die mees basiese aspekte van regeringsadministrasie.

“Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen om professionele standaarde in die Vrystaat te herstel en die regering verantwoordbaar te hou vir sy mislukkings.”

You need to be Logged In to leave a comment.