Marie Lombard, wat met haar groot liefde vir kos en bypassende geure gaste by De Oude Kraal se WildsKOSfees bederf met iets nuuts, iets heerlik en iets eksoties. Foto: Verskaf

Terwyl gaste hulself verlustig in geurige wildsgeregte en voortreflike wyne by De Oude Kraal se 25ste WildsKOSfees, ontvou daar agter die skerms ‘n merkwaardige samevloeiing van natuur, kulinêre kuns en boerevernuf.

Die beplanning vir hierdie unieke fees, wat Saterdag 7 Junie op De Oude Kraal aangebied word, begin maande voor die eerste gereg bedien word.

Tree aan vir ‘n fees van smake en pret by vanjaar se De Oude Kraal WildsKOSfees op Saterdag 7 Junie.

Elke aspek – van etiese wildwerwing en volhoubare jagpraktyke tot kreatiewe resepte en fynproewer-vleishantering – word met sorg en passie aangepak. Die doel? Om ‘n wêreldklas kulinêre ervaring reg in die hart van die Vrystaat te bied.

Wat begin het as ‘n kleinskaalse poging van net 30 gaste in die eerste jaar, het gegroei tot ‘n feestelike byeenkoms van meer as 2 000 mense in hierdie 25ste jaar – alles die breinkind van Gerhard en Marie Lombard.

“Ons eer die natuur, die wild en die veld deur verantwoordelik met dié gawes om te gaan. Elke gereg vertel ‘n storie van balans, eerbied en unieke smake, wat jou sintuie laat sing,” sê Marie, eienaar en sjef van De Oude Kraal.

In aanloop tot die fees word daar jaarliks sowat 3,2 ton wildsvleis verwerk – afkomstig van 16 verskillende spesies, waaronder springbok, blesbok, waterbok, eland, koedoe, ribbok, takbok, bosvark, vlakvark, gemsbok, rooihartebees, blouwildebees, swartwildebees, njala, rooibok, en selfs krokodil.

Daar is ook stalletjies met bees, skaap, vark en vis.

Elke karkas word deur Marie en haar span self verwerk – van die uitsny van vleissnitte tot die ontwikkeling van disse en smaakprofiele.

In die proefkombuis is daar ‘n aansteeklike opgewondenheid: worsmengsels word vars gebraai, geproe en fyn ingestel totdat die geur, tekstuur en soutgehalte perfek is.

Die WildsKOSfees is egter méér as net ‘n kulinêre belewenis – dit is ‘n viering van kultuur, gemeenskap en Suid-Afrika se ryk kos-erfenis.

Die fees bring plaaslike produsente, entoesiastiese helpers, kunstenaars en wildkenners byeen om saam iets besonders te skep.

Kaartjies vir die fees is beskikbaar by De Oude Kraal se webwerf deoudekraal.co.za, by Crazy Daisy in Fleurdal Mall, Daisy en Co in Prellerplein en by die Delta-drankwinkel op die hoek van Tweedelaan en Pres. Reitzlaan in Westdene. Kry jou kaartjies betyds om te deel in dié eg Vrystaatse winterfees.

You need to be Logged In to leave a comment.