Dian Krüger (9) van die Laerskool Willem Postma was die jongste deelnemer in die enjinrestourasie-uitdaging.Foto’s: Lientjie Mentz


Die gehalte van die inskrywings vir vanjaar se Vrystaat-been van die enjin-restourasiekompetisie vir jong restoureerders was so hoog dat almal deurgedring het na die nasionale eindronde in Oktober.

Jongmense kry jaarliks die geleentheid om ’n enjin te restoureer en hulle in te skryf vir die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker- en -enjin-klubs (Savtek) se enjin-restourasie-uitdaging, wat saam met Engen aangebied word.

Die tien enjins wat ingeskryf is vir die Sentraal-Vrystaat-veteraneklub se halfeindronde is Saterdag (15/07) by Curie Park Quick Stop beoordeel.

Dian Krüger (9), ’n leerling aan die Laerskool Willem Postma, was die jongste deelnemer van die dag.

Die jong man het die hele restourasieproses geniet. Hy het ’n Wolesley 3-perdekrag-enjin van 1963 gerestoureer.

Dian sê hy het heelwat geleer oor hoe enjins werk.

Hy kon nie wag om die enjin aan die gang te slinger vir almal wat wou sien hoe dit werk nie.

Hy en oupa Hotze van Heerden moes behoorlik planne maak oor hoe om die enjin van die plaas Speelmanshoek weer in ’n werkende toestand te kry.

“Voordat ons begin het, het ek niks van ’n enjin geweet nie en ook nie verstaan hoe dit werk nie,” het hy aan die beoordelaars vertel.

“Ek het geleer dat die ou mense baie meer geweet het as wat ek dink. Hulle moes met alles planne maak.

“Hulle het enjins en ander boerderygoed regmaak as dit breek.

“Hulle het nie sommer ander goed gaan koop nie, hulle het eers self ’n plan gemaak om dit reg te maak.”

Christo Pieterse, voorsitter van Savtek, sê die enjins wat ingeskryf is, was almal op ’n baie hoë peil.

Duan Kymdell (10) is as die wenner in die Junior Standaardklas aangewys. Dié leerling aan Willem Postma het ’n Wolseley WD8-enjin van 1959 saam met sy pa, Riaan, reggemaak.

Riaan vertel hulle het letterlik duisende foto’s van die regmaak­proses geneem.

“Dit was vir ons ’n lekker leerproses, en die foto’s help ons om te onthou hoe dit gevorder het.”

Riaan sê dit was ’n heerlike ervaring en die mense van die klub was baie behulpsaam.

Wynand Cilliers, wat ’n Lister K-3 perdekrag-enjin uit 1930 herstel het, was die wenner in die meesterklas. Die enjin is gebruik om water te pomp op ’n familieplaas by Clocolan.

Die opheffingsprogram word gereël en bestuur deur Savtek en daar is in vier klasse meegeding om almal ’n regverdige kans te gee.

Die eindronde van die uitdaging vind op 6 en 7 Oktober tydens die Bloem-Familietrekkerfees by die Ferreira-museum plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.