Bloemfonteiners was onder die deelnemers wat op 5 November in Bali, Indonesië, aan die Biathle-en-triathle-wêreldkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het.
Atlete van ses kontinente het meegeding, met deelnemers van alle ouderdomme – sommige jonger as nege jaar en ander meesters ouer as 70 jaar – wat op die eiland se wit strande ’n plek oopgeveg het.
Die 86 atlete van Suid-Afrika het uitstekend gevaar, met byna 50 goue medaljes wat opgelewer is.
Lynette Fischer van Bloemfontein het ses goue medaljes in die meestersafdeling (60 jaar en ouer) verower deur in biathle individueel, in spanverband, en in die gemengde aflos te wen en dieselfde in die individuele, span- en gemengde-aflos-triathle te behaal.
Johnathan Matthew van die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem was vyfde in die biathle vir seuns o.11 en het in dié ouderdomsgroep goud saam met sy span gewen.
Gerrit Kroon (o.15, biathle) het ’n sewende plek behaal en Willem Bosch (o.17, triathle) ’n 19de plek. Altwee dié atlete is van Grey-kollege (sekondêr).
WJ Kruger (o.17, biathle) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem was negende in sy afdeling.
Leana Esterhuizen is een van vier spanbestuurders wat saam met die atlete na Bali getoer het.
Dit is die eerste keer dat Protea-kleure in dié sportsoort aan o.19- en junior atlete toegeken is.





