Vrywillige hande helder Kersdag op

Hy moes veg om die trane weg te hou op Kersdag toe hulle die stad se haweloses met ’n feesmaal en geskenke kon bedien.


Hy moes veg om die trane weg te hou op Kersdag toe hulle die stad se haweloses met ’n feesmaal en geskenke kon bedien.

“Ondanks die beperkings weens Covid-19 het ons ’n baie geseënde tyd gehad,” sê De la Harpe le Roux van Torings van Hoop, ’n nieregerings­organisasie in Bloemfontein.

Hulle het vir soveel as moontlik van hul vriende in die gebou ruimte gemaak, en het aanbiddingsliedere met ’n mengsel van klassieke en charismatiese style gesing.

“Meer as 25 vrywilligers het gekom om meer as 300 Kersfeesmaaltye te bedien en geskenke uit te deel.”

Hy sê hulle het ná Kersfees voortegaan om die Kersboodskap met gemeenskappe in die stad te deel omdat die Covid-19-maatreëls talle mense verhoed het om op Saterdag 25 Desember by Torings van Hoop in die middestad te wees.

“Wat ’n massiewe voorreg om van hierdie energie deel te wees. Al die eer behoort aan ons God.”

Le Roux het skenkers van kos en basiese­ kruideniersware bedank wat gehelp het dat die geleentheid by Torings van Hoop op Kersdag kon gebeur.

“Julle stel ons in staat om die armes en kwesbares op Kersdag te dien deur hulle te herinner dat ons Here (en sy mense) nie van hulle vergeet het nie.”

Torings van Hoop het einde Desember meer as 20 ton mieliemeel ontvang, waarna vrywilligers gehelp het om dit sak vir sak by die NG kerk Berg-en-Dal in Dan Pienaar van die vragmotor af te laai.

“Baie dankie aan die sowat 50 mense wat in ’n oomblik ge­reageer het en ons in staat gestel het om die sakke meel in Berg-en-Dal se saal af te laai,” sê Le Roux.

“Laat niemand ooit negatief oor die mense van Bloemfontein praat nie. Hulle het sulke goeie harte!”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.