Ná ’n oproep van Friends of Franklin om te help om die heining van die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill reg te maak, het vrywilligers hulp aangebied.
Dit kom nadat inwoners in die omgewing gereeld bokke buite die grens in die omgewing van Delvillerylaan gesien het.
Andri Grobbelaar sê dit is die takbokke in die reservaat wat gereeld by ’n gat in die hek “ontsnap”.
“Ons het op ons Whats App-groep gevra of daar nie vrywilligers is wat ons kan help om die grensdraad heel te maak nie om te keer dat diere uitkom en mense in gaan.”
Die span van Helicon Wildlife Services het Maandag (14/11) kom hand bysit en sowat sewe gate in die heining naby die destydse backpackers heel gemaak.
Sean Bosse van Helicon, sê hy het juis Maandag takbokke naby die grens by Delvillerylaan gesien.
Hy sê die twee werkers Michael Macholo en Gert Swart het onder meer die twee heinings hier naby die backpackers wat ’n ent van mekaar gestaan het, tot teen mekaar geskuif om dit so stewiger te maak.
Grobbelaar sê daar is nog hulp nodig van ander vrywilligers om ook ander dele van die heining heel te maak om die diere te beveilig.
“Ons is baie dankbaar vir Helicon se hulp om die heining hier onder reg te maak,” het sy gesê.