Maak haweloses se Kersfees spesiaal

Daar is elke jaar ’n fees van bediening en omgee om Kersdag vir behoeftige mense in Bloemfontein se middestad spesiaal te maak.


Daar is elke jaar ’n fees van bediening en omgee om Kersdag vir behoeftige mense in Bloemfontein se middestad spesiaal te maak.

Dit is dan, terwyl ander aansit vir ’n heerlike Kersmaal saam met familie en geliefdes, dat talle vrywilligers uitreik om dié wat nie so ’n voorreg het nie, te dien en te trakteer met ’n Kersete.

Ds. De la Harpe le Roux van Torings van Hoop, sê daar is verskillende maniere waarop mense betrokke kan raak om Kersfees vir ’n groot groep minderbevoorregte mense, spesiaal te maak.

Hulle kan ’n week voor Kersfees help om die geskenkpakkies te pak of voorbereidings te doen vir die Kersmaal.

Vrywiligers kan op Kersdag help om alles reg te kry en op te skep asook die ete en Kerspakkies ná die erediens uit te deel.

Mense kan ook skenkings maak vir die Kerspakkies of ete wat bedien word of ’n geldelike skenking aan Torings van Hoop maak.

“Kom ons vier weer hierdie Kersfees die oorwinning en die krag van die Lig,” sê Le Roux.

“Ek wil jou uitnooi om juis iets prakties te kom doen om op jou eie beskeie manier ietsie van die Lig in die duisternis te laat val.

“Soos in die verlede gaan Torings van Hoop weer vanjaar vir die publiek die geleentheid gee om hulle wat vir hul daaglikse lewensbestaan heeltyd onder die bedreiging van die duisternis staan, te kom herinner aan die krag van die Lig.”

Rig navrae oor bestanddele wat benodig word of tye waar vrywilligers se hulp benodige word, deur ’n e-pos na dlh@towersofhope.org te stuur.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.