Vrywilligers van Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA) se Bloemfontein-tak is op 10 Augustus op ’n klein geselligheid bedank vir die bydrae wat hulle tot dié organisasie lewer.
Corné Killian van die tak sê die geleentheid het by die VVA se viering van Vrouemaand ingeskakel.
“Vrywilligers kan ’n groot rol in geldinsameling en die verkryging van skenkings speel, asook in die bestuur van die tak. VVA Bloemfontein se vrywilligers is almal passievol en leef hul talente en lewensdoel uit deur as deel van hierdie organisasie ’n verskil te maak,” het sy gesê.
Tydens Vrouemaand in Augustus het dié tak gefokus op inspirerende vroue wat ’n positiewe invloed in hul gemeenskap het.
Die tak het ongeveer 24 vrywilligers wat op verskillende maniere ’n bydrae lewer. Dit sluit in betrokkenheid by die gemeenskapswinkel, die kleuterskool, opheffingsprojekte soos die Laventel-projek en gemeenskapsgroentetuine, vakansieprojekte om lewensvaardighede vir jong mense te leer, asook kuns- en naaldwerkklasse vir vroue.
Benewens die tak se bedanking van die vrywilligers, is daar ook daarop gefokus om hulde te bring aan werkers in die voorste linie. Die tak het hom toegespits op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoekbeamptes in die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings, asook gesondheidswerkers in klinieke en hofpersoneel aan die Tshepong-slagofferondersteuningsentrum.
“Ons het ook moeite gedoen in die daarstel van ’n effektiewer, slagoffer-vriendelike stelsel deur met hierdie betrokkenes in gesprek te tree en leemtes en uitdagings aan te spreek,” se Killian.
“Die maatskaplike werkers van die VVA werk intensief met kindermishandeling en -misbruik en is ’n belangrike skakel in die aanmeld- en ondersoekproses, asook die beskerming van kinders wat deur hierdie trauma gaan. Ook volwassenes wat slagoffers van gesinsgeweld is of geslagsmisdade soos verkragting of teistering ervaar, kan by die Watkeystraat-tak hulp kry.”
Maatskaplike werkers hier is opgelei om kinders en volwassenes emosioneel deur die helingsproses by te staan en hulle deur die hofproses te ondersteun.