Vier landloopatlete wat deur Bloemfonteiner JP Botha afgerig word, het goed gevaar op die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskapsbyeenkoms wat op 16 September in Gqeberha plaasgevind het.
Mason Jordaan (seuns o.10) was vyfde uit ’n veld van 144 atlete en het ’n goue medalje as deel van die Vrystaatspan in dié ouderdomsgroep gewen.
Hy was die eerste Vrystaatatleet in sy ouderdomsgroep wat die wedloop klaargemaak het.
Esté van Tonder was sesde in haar ouderdomsgroep, vroue 35 tot 39 jaar.
Haar seun, Dries (o.12), was 22ste uit 125 atlete en haar dogter, Lynné (o.11), was 52ste uit ’n groep van 112 atlete.
Altesaam 3 700 atlete het aan die byeenkoms deelgeneem.
Die Vrystaat het goed vertoon, met agt medaljes en medaljes in 16 spankompetisies.
Die Vrystaat was algeheel derde, met dié aantal medaljes wat ontvang is.
Botha sê die atlete moes in erg winderige toestande deelneem.
“Die windspoed was by tye 90 km/h, so dit was moeilik vir die atlete,” sê hy.