Drie Vrystaat-atlete het eerste plekke behaal in hul onderskeie afdelings van die Suid-Afrikaanse vyfkampkampioenskappe wat Vrydag (07/04) en Saterdag in Bloemfontein aangebied is.
Lynette Fischer het goud gekry in haar ouderdomsgroep (60+ jaar), en Cayden Potgieter (seuns o.15) en Mika-Leigh Strydom (meisies o.15) was ook eerste in hierdie kompeterende ouderdomsgroep.
Daar was 30 atlete van vyf provinsies wat aan die kampioenskap deelgeneem het.
Vyfkamp is ’n Olimpiese sport wat bestaan uit skerm, swem, laserwedlope en perdry. Laasgenoemde is in 2024 deel van die Olimpiese spele van die sport, daarna sal perdry met ’n hindernis-item vervang word.
Vyfkamp werk op ’n puntestelsel en die atleet met die meeste punte, wen die kompetisie. Atlete neem in hul ouderdomsgroepe deel, maar by die Olimpiese spele is daar net ’n senior kompetisie.
Om hierdie rede is die perdry vir die o.19-atlete en jonger ouderdomsgroepe reeds met die hindernis-item vervang.
Atlete het Vrydag begin met die skerm-nommers in die Callie Human-sentrum by die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Saterdagoggend het senior atlete deelgeneem aan die perdry-item, terwyl die jonger atlete dit op die hindernisbaan by die C4 Fitness-sentrum uitgespook het.
Die geheim van die hindernisbaan is balans, tegniek en sterk arms.
Cayden het die derde vinnigste tyd op die hindernisbaan behaal in 49 sekondes. Benjamin van Onselen van die Westelike Provinsie (o.19) het dit in 41 sekondes voltooi en Matthew Hunt van Gauteng (seuns o.17) het die baan in 48 sekondes voltooi.
Die swemnommer en laser-wedloop is Saterdag by die Hoërskool Sentraal voltooi.
Die oudste atleet by die byeenkoms, Johan Windt van Mosselbaai (70), het ’n goue medalje in sy ouderdomsgroep behaal.
Die jonger atlete spook dit nou uit om in Julie in Alexandria in Egipte te gaan deelneem aan die Wêreldkampioenskap vir o.17 in vyfkamp.