’n Vrystaatspan is gekies om in September aan die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskap deel te neem. Van links is Mason Jordaan en Dries, Esté en Lynné van Tonder, wat almal in dié span ingesluit is. Die vier word deur JP Botha by die Hoërskool Jim Fouché afgerig.Foto: Lientjie Mentz


’n Groot Vrystaatspan is gekies om op 16 September aan die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskapsbyeenkoms in Gqeberha deel te neem.

Die span is gekies ná die Vrystaat-kampioenskap wat Saterdag (19/08) op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) beslis is.

Altesaam 1 170 atlete het in verskillende ouderdomsgroepe aan die kampioenskap deelgeneem.

Esté van Tonder het in haar afdeling (veterane 35 tot 40 jaar) gewen. Sy het op skool in landloop uitgeblink en het drie jaar gelede weer begin deelneem aan dié sportsoort, waarin haar twee kinders ook goed vaar.

Haar seun, Dries, was Saterdag vierde in die ouderdomsgroep vir seuns o.12 en Lynné was 12de in die afdeling vir meisies o.11. Die twee is in die Laerskool Willem Postma.

Mason Jordaan van die Laerskool Fichardtpark het in die afdeling vir seuns o.10 gewen.

Atlete van agt jaar tot meesters, tot en met 70 en ouer, neem aan die kampioenskappe deel. Elke ouderdomsgroep het sy eie wedloop en afstande verskil vir die verskillende ouderdomme.

Hulle neem individueel asook in spankompetisies deel, waar hulle medaljes kan verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.