Verskeie gedenk­dienste ter nagedagtenis aan die ontslape Vrystaatse LUR vir onderwys, Tate Makgoe, is Woensdag (08/03) oor die provinsie heen gehou.

Vandag (09/03) word ’n gesamentlike gedenkdiens vir Makgoe en sy lyfwag, AO Vuyo Mdi, om 10:00 op die Vista-kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gehou.

Mdi se begrafnis is Saterdag om 08:00 op dié kampus, en die begrafnisdiens vir Makgoe is Sondag om 08:00, ook op dié kampus. Hy sal in die Bainsvlei-begraafplaas begrawe word.

Intussen stroom huldeblyke al die hele week in ná die dood van Makgoe Sondag (05/03) in ’n motorongeluk op die N1 naby Winburg.

Die Vrystaatse Wetgewer het Dinsdag ’n spesiale sitting gehou waarin die nuwe premier, Mxolisi Dukwana, asook wetgewerlede, aan die ontslape LUR hulde gebring het.

Makgoe en Mdi is Sondag in die vroeë oggendure, omstreeks 01:30, op die toneel dood nadat die ligte voertuig waarin hulle gereis het teen drie beeste op die snelweg gebots het.

Die bestuurder van die voertuig, AO Pule Nkopane, is ná die ongeluk in die Mediclinic Bloemfontein opgeneem, waar hy teen Woensdag nog behandel is.

Teen die tyd van sy dood was Makgoe die langs­dienende lid van die Vrystaatse Wetgewer. Hy was sedert 1994 ’n lid van die wetgewer en het onder meer gedien as LUR vir finansies, toerisme en omgewingsake, landbou, publieke veiligheid en sedert 2009 LUR vir onderwys.

Dit is in sy portefeulje as onderwys waarin hy in besonder onthou sal word danksy die uitslae van Vrystaatse matrieks wat die laaste paar jaar die beste in die land gevaar het. Dit was in 2022 die vierde jaar agtereenvolgens en die sewende keer in tien jaar waarop dié provinsie se slaagsyfer die beste in die land was.

Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse Wetgewer, sê in ’n nuusverklaring die DA spreek sy leedwese uit teenoor Makgoe se familie, vriende en die ANC.

“Ons dink ook aan die familie, vriende en kollegas van die lid van sy beskermingsdiens wat gesterf het terwyl hy aan diens was.”

Jankielsohn sê Makgoe sal onthou word vir sy fyn sin vir humor en sy ywerige deelname in debatvoering in die wetgewer.

“Sy laaste debat in die wetgewer was Vrydag tydens die debat oor die provinsiale rede waar hy sy trots uitgespreek het oor die matriek-uitslae in die Vrystaat.

“Die Vrystaatse uitvoerende komitee is armer weens die verlies van institusionele kennis en sy jare van ervaring.”

You need to be Logged In to leave a comment.