VS se naam hoog gehou

Net ’n enkele leerling van die Vrystaat het vanjaar deurgedring na die nasionale Hubert van der Spuy-musiekkompetisie vir musici 13 jaar en jonger.


Net ’n enkele leerling van die Vrystaat het vanjaar deurgedring na die nasionale Hubert van der Spuy-musiekkompetisie vir musici 13 jaar en jonger.

Dit terwyl die kompetisie vroeër jare gewemel het van Vrystaters. Veral strykers het gereeld hul stempel afgedruk.

Die kompetisie word vanjaar die eerste keer in Stellenbosch gehou en vind van 16 tot 20 September in die musiekkonserva­torium van die Universiteit Stellenbosch plaas.

Die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Kaapstad was voorheen die tuiste van die kompetisie.

Hendie Human mag die enigste Vrystater in die musiekkompetisie wees, maar dié 12-jarige klarinetspeler het ’n CV langer as ’n man se arm.

Voordat sy verlede jaar met klarinet by Danré Strydom, medeprofessor by die Odeion Skool vir Musiek (OSM) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), begin het, het sy blokfluit- en klavierlesse geneem.

Strydom sê die agtergrond en “mooi oefen” het haar baie vinnig laat vorder.

Musiek is allermins die enigste aktiwiteit in Hendie se lewe. Sy is betrokke by die Voortrekkers, kaptein van die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein se eerste meisiestennisspan, en lid van die Mangaung-metrostreek se o.14B-span.

Sy speel ook in die skool se eerste meisieshokkiespan en is kaptein van die onoorwonne o.13C-netbalspan.

Wat akademie betref, is Hendie onder die toptien in gr. 7 en sy sê haar gunsteling-vak is wiskunde.

Haar musiekdeelname in die skool is as lid en leier van Willem Postma se senior koor, wat einde Julie in Kaapstad aan die eindronde van die ATKV-applouskompetisie deelneem. Sy is ook ’n lid van die skoolorkes en speel daarin natuurlik klarinet.

You need to be Logged In to leave a comment.