VS-tennisspan wen met veggees

Vier Vrystaters is in die Suid-Afrikaanse o.13A-skolespan ingesluit, en die Vrystaatspan is as die algehele wenner aangewys in Tennis Suid-Afrika se o.13-toernooi wat die afgelope naweek in Pretoria aangebied is.


Vier Vrystaters is in die Suid-Afrikaanse o.13A-skolespan ingesluit, en die Vrystaatspan is as die algehele wenner aangewys in Tennis Suid-Afrika se o.13-toernooi wat die afgelope naweek in Pretoria aangebied is.

Die Vrystaatspan bestaande uit ses meisies en ses seuns het op Vrydag 9 Augustus die toernooi begin met twee goeie oorwinnings teen Boland Kavaliers se B-span en Gauteng-Oos.

Saterdag was elke punt belangrik, en Vrystaat het die Oos-Kaap geklop om te verseker dat hulle vir die halfeindronde kwalifiseer.

Die span se afrigter, Heinrich Willemse, sê die Vrystaat-o.13-span se geskiedenis in die halfeindronde behels nie deurentyd sukses nie, en die spelers het geweet daar wag ’n groot stryd op hulle toe hulle teen Gauteng-Sentraal te staan kom.

Die Vrystaters het hul staal getoon en het Gauteng-Sentraal met 25 – 15 geklop.

In die eindstryd het hulle teen die baie sterk span van Gauteng-Noord te staan gekom.

Willemse sê die Vrystaters het ongelooflike veggees getoon en het hul oorwinning verdien.

“Die oorwinning is ’n goeie teken dat tennis in die Vrystaat in die regte rigting beweeg. Dit is lekker om te weet spelers begin al so jonk uitblink.”

Wat die naweek se uitslae net nog meer uitstekend maak, is dat Nathan Herbert (Grey-kollege Primêr), Awert Viljoen (Laerskool Truida Kestell in Bethlehem), Mandie Claassens en Lika Claassens (albei van die Laer Meisieskool Oranje) ingesluit is in die Suid-Afrikaanse o.13-span, wat na Londen sal toer.

Nathan, Mandie en Lika is lede van die Cepha Tennis-akademie in Bloemfontein.

Willemse sê die oorwinning is ’n groot sukses vir die Vrystaat-o.13-span, maar ook vir Vrystaat-tennis in geheel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.