Die onwettige rommelhoop op die draai in Mackenziestraat by Nuwe Ooseinde het Maandag (13/06) gebrand.Foto: Lientjie Mentz


Meer as 16 woonbuurtverenigings asook ondernemings, kerke, burgerregteorganisasies en individue oor die stad heen het die afgelope jare ingespring om die leemtes te vul wat swak dienslewering in die Mangaung-metro gelaat het.

Een van die nuutste aksies is dié van die Nuwe Ooseinde-forum wat sedert April op eie koste slaggate vul, stormwaterdreinering regmaak, gras sny en rommel opruim.

Paul Corbett van Pro Construc­tion het as deel van die forum reeds 100 ton se teer gebruik om slaggate in Nuwe Ooseinde te vul.

“Ons het reeds sowat R300 000 ingesamel waarmee ons honderde slaggate in strate soos Fritz Stockenstroomstraat gevul het, asook talle stormwaterdreine reggemaak het.”

Henriëtte Botha van die forum sê hulle het al die rommelhoop wat op die draai bo in Mackenziestraat ophoop, weggery.

“Mense bly egter hier vullis gooi en binne ’n week vorm die hoë hope weer.”

Maandag (13/06) het die rommel hier gebrand en ’n brandgevaar vir die omgewing geskep.

Botha sê daar is sowat 40 ondernemings in die Nuwe Ooseinde sake-gebied wat al op een of ander manier ’n bydra maak om die netheid van die gebied te verbeter.

“Ons het egter almal se hulp nodig om die gebied se infrastruktuur te verbeter en in stand te hou. Ek het ’n lys van 180 ondernemings en wil graag almal betrokke kry. Ons vra die ondernemings om almal voor hul eie persele skoon te maak en so Nuwe Ooseinde netjies te hou.”

Die forum gaan nou ’n formele nie-winsgewende organisasie stig om selfs meer doeltreffend die gebied netjies te hou en veiligheid word ook bespreek.

In nog ’n deel van die stad het Veronica Venter begin met Clean Trash om herwinning te bevorder.

“Ek het begin met die projek omdat soveel vullis die wêreld vol lê. Dit terwyl daar soveel goed is wat herwinbaar is.”

Sy sê die informele herwinnaars (pickers) mors soveel tyd om deur die sakke te krap.

“Met hierdie projek wil ons dit vir hulle ook maklik maak om hier in die noorde van die stad herwinning te doen.”

Die projek spruit uit ’n klem op omgewingsbewaring van wyk 44 se komitee in onder meer Bayswater, Pentagon Park en Noordhoek.

Clean Trash is ’n nie-winsgewende onderneming wat deurskynende plastieksakke van herwonne materiaal aan die publiek verkoop. Daar is aparte sakke vir glas, papier, metaal, plastiek en algemeen.

“Kom ons maak die woonbuurte in die stad skoon en help herwinnaars om makliker hul werk te doen en so ons stad skoon te hou.”

Selme Pretorius, DA-raadslid van wyk 44, sê nog ’n voordeel daarvan as mense reeds by die huis herwinning doen, is dat dit verligting bring op die stad se vullishope wat onder erge druk verkeer.

“Ek glo hoe makliker ’n mens dit vir almal maak, hoe meer herwinning sal in die stad plaasvind. ’n Mens moet net begin met so projek en daarna kan nog projekte volg,” sê Pretorius.

Venter sê sy het in Johannesburg gewoon waar herwinning deur ondernemings gedoen word.

  • “Ons wil ook borde oprig by meenthuiskomplekse wat deel van dié projek vorm om herwinning te bevorder.” Rig navrae oor Nuwe Ooseinde aan Botha by 072-119-5760.

Kry inligting oor Clean Trash deur ’n WhatsApp na 076-146-9703 te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.