Vullis: Regsbrief oorhandig

Met vullisverwydering wat die afgelope tyd weer erg sporadies geword het, het AfriForum Dinsdag 4 Maart ’n regsbrief aan die Mangaung-metro oorhandig om die metro te dwing om 700 inwoners van die metro se diensgeld vir vullisverwydering op te skort.


Met vullisverwydering wat die afgelope tyd weer erg sporadies geword het, het AfriForum Dinsdag 4 Maart ’n regsbrief aan die Mangaung-metro oorhandig om die metro te dwing om 700 inwoners van die metro se diensgeld vir vullisverwydering op te skort.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake sê die metro kan nou geen ander rede buiten sy eie onwilligheid aanvoer waarom 700 huishoudings nie van die maandelikse munisipale vullisverwyderingstarief kwytgeskel kan word nie.

AfriForum het die regsbrief met die aansoeke om kwytskelding van 700 Bloemfonteiners by die munisipale kantoor op die munisipale bestuurder, Sello More, beteken. Die burgerregteorganisasie het reeds in Januarie vanjaar ’n skrywe aan dié metro gerig om die kwytskeldingsaansoeke – waarvoor die metro se eie munisipale regulasies voorsienning maak – te finaliseer. Tot dusver kon die metro as deel van sy vertragingstaktiek steeds nie uitsluitsel hieroor gee nie.

“Die huishoudings wat kwytskelding van die munisipale vullisverwyderings- tarief versoek, betaal reeds maandeliks privaatvullisverwyderingsdienste om hierdie diens te lewer aangesien die Mangaung-metro se geskiedenis van dienslewering alles behalwe roos-kleurig is,” sê hy.

In sy regsbrief voer AfriForum aan dat dié brief met die aansoeke daarby juis per hand by die munisipaliteit ingedien word sodat daar nie meer hare gekloof word oor wat presies versoek word en hoeveel huishoudings die kwytskelding aanvra nie.

“Ons wil weet of die aansoeke goedgekeur is of nie en as dit afgekeur is wil ons weet waarom. In plaas daarvan om vir ons ’n antwoord te gee, gebruik die munisipaliteit allerhande vertragingstaktieke om steeds inwoners se vullisverwyderings- tarief te verhaal vir ’n diens wat privaatvullisverwyderingsdienste nou lewer. Inwoners het die reg om self te besluit by wie hulle betroubare dienslewering wil kry en mag nie deur ’n munisipaliteit gedikteer word om van hul onvolhoubare dienste gebruik te maak nie,” sê De Klerk.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder van Bloemfontein, sê die situasie toon duidelik dat die Mangaung-metro en sy leierskap geen waarde ag aan versoeke vanaf die gemeenskap nie, wat lei tot inwoners wat steeds vir ’n diens moet betaal selfs al word daar geen dienste gelewer nie. “In sommige gevalle word lede selfs gedwing om dubbele koste aan te gaan om hul vullis verwyder te kry,” sê Groenewald.

Talle meenthuiskomplekse is slagoffers van die Mangaung-metro se swak dienslewering. By komplekse waar daar nie van ’n privaat-kontrakteur gebruik gemaak word nie, staan honderde vullissakke opmekaar gestapel weens die metro se onvermoë om die vullis gereeld en volgens skedule te verwyder. Dit veroorsaak groot frustrasies by die inwoners aangesien informele rommelversamelaars die sakke oopskeur en dan net so los wat dan siektedraende peste, soos rotte en selfs slange, lok. “Dit skep ’n gevaarlike situasie, wat die gesondheid van inwoners bedreig asook die veiligheid van die gemeenskap in gedrang bring,” voeg Groenewald by.

“Ons sal nie opgee totdat geregtigheid geskied en mense kry waarvoor hulle betaal nie. Ons sal voortgaan om ons lede te ondersteun in die geveg teen swak dienslewering en is bereid om hof toe te gaan indien nodig,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekhoof vir die sentraalstreek. “Vullisverwydering is al vir jare ’n probleem in Bloemfontein en omliggende gebiede weens die munisipaliteit se swak bestuur.”

AfriForum lewer ’n vullis- verwyderingsdiens aan huishoudings in Bloemfontein. Vroeg in Februarie het AfriForum sy nuwe oranje vullisverwyderingsvragmotor ingespan om sowat 20 ton vullis te verwyder.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.