Dit is ’n positiewe stap dat die Mangaung-metro in ’n kennisgewing sy voorneme aandui om die noordelike stortingsterrein te sluit.
Só sê Selmé Pretorius, DA-wyksraadslid, oor dié stortingsterrein 6 km noord van die Bloemfonteinse middestad.
Sy spreek ook haar dank uit teenoor die groep wat saam met die polisie die onwettige inwoners wat hier by dié stortingsterrein in tydelike strukture gewoon het, op Vrydag 7 Junie verwyder het. Sowat 40 strukture is verwyder. (Lees berig hiernaas.)
“Brande ontstaan dikwels hier, so dit is goed dat die mense wat dikwels dié brande veroorsaak, verwyder is.”
Die kennisgewing wat op 4 April in die media verskyn het, sê die metro is van voorneme om die stortingsterrein, wat sy maksimum lewensduur bereik het, te sluit. Die kennisgewing sê verder die vullis word nou in die stormwaterpoel gestort wat loogbeheer en bestuur beperk.
Die kennisgewing is gepubliseer ingevolge wetgewing vir die buitediensstelling van ’n stortingsterrein. Hierdie een is spesifiek gemik op die verkryging van ’n lisensie vir watergebruik hier.
Volgens die nuutste begroting van die Mangaung-metro is R83 miljoen beskikbaar vir die sluiting en rehabilitasie van die noordelike stortingsterrein oor die volgende drie jaar.
Daar is ook R23 miljoen vir die ontwikkeling van ’n nuwe terrein begroot.
Qondile Khedama, woordvoerder vir die Mangaung-metro, het teen druktyd nog nie terugvoering gegee oor hoe die proses vorder en of daar reeds ’n nuwe terrein as stortingsterrein geïdentifiseer is nie.