AfriForum oorweeg verdere stappe teen die Mangaung-metro nadat lede van die gemeenskap wat om kwytskelding van betaling vir vullisverwydering aansoek gedoen het, afgekeur is.
Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, sê dié instansie het op 12 Oktober ’n beroep op die metro gedoen om geen vullisverwyderingsrekeninge te stuur aan inwoners wat gevra het dat dié diens deur die metro gekanselleer word nie.
Coetzee sê meer as 600 huishoudings het met die hulp van AfriForum al hiervoor aansoek gedoen weens die metro se swak dienslewering. Dié inwoners verkies om liewer van privaat-vullisverwyderingsdienste gebruik te maak en wil nie twee keer vir dieselfde diens betaal nie.
Die waarnemende stadsbestuurder, Maureen Ntshudisane het aansoekers toe ingelig dat die metro nie hul aansoeke gaan oorweeg nie omdat daar ’n hangende saak in die hooggeregshof is.
Coetzee voer aan dat die metro se verordening insake vullisverwydering voorsiening maak vir die inwoners om aansoek te doen vir kansellasie van dié munisipale diens en vir kwytskelding van betaling daarvoor.
“Die Mangaung-metro versuim in sy grondwetlike plig om volhoubare vullisverwydering aan sy inwoners te verskaf. Dit is daarom irrasioneel om te eis dat inwoners moet betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie. Die kansellasie van munisipale vullisverwyderingsdienste en die aanstelling van privaat diensverskaffers kan ’n volhoubare alternatief vir veral deeltitelskemas en komplekse wees omdat dié dienste beter en goedkoper sal wees.”
“Inwoners van Bloemfontein behoort te kan kies of hulle privaat of munisipale vullisverwyderingsdienste wil gebruik. Ons is bereid om die hof te nader en alles moontlik te doen sodat die inwoners van Bloemfontein hierdie reg kan uitoefen. Daar is verskeie privaat kontrakteurs wat reeds jare lank al hierdie diens aan inwoners lewer en oorgehaal is om hierdie diens in sy geheel by die metro oor te neem. Die enigste struikelblok is die dubbele betaling van vullisverwyderingsdienste, maar AfriForum beplan om hierdie struikelblok binnekort uit die weg te ruim,” benadruk Coetzee.