Sowat 48 000 mense is gevoed danksy ’n Mandeladagprojek van Vrystaat-Versorging in Aksie.

Corlia Karsten, bestuurder van die Vrystaat-bejaardesorgsentrum, sê die VVA bedryf talle sopkombuise en deel kospakkies uit om die probleem van armoede aan te spreek.

“In 2022 is hierdie projekte nie meer genoeg nie en ons moes ’n bykomende projek kry om mense te voed. Daarom het ons besluit op die Bottels vol Omgee-projek.”

Sy verduidelik VVA takke en weldoeners van 23 dorpe in die Vrystaat het leë koffiebottels bymekaargemaak, gewas en gevul met rys, droë sopmengsel, lensies, ’n vleisaftreksel en pakkie soppoeier. “So ’n bottel kan ’n gesin van 4 van ’n gebalanseerde maal voorsien.”

Die projek in Bloemfontein het by die Woodland Hills-gemeenskapskerk onder leiding van Rowen Smith begin en uitgekring na ondernemings, kerke, skole, gemeenskappe en individue oor die Vrystaat en Suid-Afrika heen.

Die Laerskool Willem Postma het 1 000 bottels geskenk en uiteindelik is daar met die reuse-poging 12 000 bottels bymekaargemaak.

Studente van die departement maatskaplike werk het Vrydag (29/07) 1 000 van dié skenking aan behoeftige inwoners in Brandwag uitgedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.