Danksy die flink optrede van die polisie is vyf verdagtes op Woensdag 17 Desember vasgetrek nadat hulle vermoedelik ‘n onderneming in Westdene beroof het.
Volgens sers. Mahlomola Kareli, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, het vier verdagtes om 14:00 by ‘n onderneming in dié sakegebied ingestap. Een verdagte het ‘n vuurwapen gehad en die winkeleienaar en twee klante in ‘n kamer in die agterkant van die perseel ingedwing.
Terwyl die slagoffers met die vuurwapen aangehou is, het die ander verdagtes die winkel geplunder en ‘n onbekende bedrag asook a groot hoeveelheid sigarette gesteel.
Die verdagtes het gevlug in ‘n rooi Toyota Corolla, maar voordat hulle gevlug het, is ‘n skoot afgevuur. Niemand is beseer nie.
Kareli sê die Parkweg-polisie is van die gewapende rooftog in kennis gestel waarna ‘n soektog na die verdagtes en die Toyota Corolla begin het.
Binne ‘n uur is die verdagtes in die Bloemfonteinse middestad gewaar en die voertuig is onderskep. Die polisie het vyf verdagtes in hegtenis geneem, en beslag gelê op ‘n 9mm-vuurwapen en ammunisie asook die voertuig.
Die vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 25 en 70 jaar sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en die onwettige besit van ‘n ongelisensiëerde vuurwapen en ammunisie.
Lees oor die rooftog in Westdene in November:





