’n Dubbele reënboog kon Sondag (30/10) oor groot dele van Bloemfontein gesien word. Hierdie foto is geneem in Niel van Loggerenbergstraat, Universitas.Foto: Hennie Louw


’n Vlak 4-reënwaarskuwing is uitgereik vir inwoners van Bloemfontein.

Quinton Jacobs van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in die stad, sê daar is ’n 80% kans vir reën vir vandag (Dinsdag).

“Daar is vir vandag ’n vlak 2-waarskuwing uitgereik met ’n voorspelling van ongeveer 25 mm vir vandag.” Die waarskuwing geld van Dinsdag 14:00 af.

Hy sê ná swaar reën wat vandag verwag word, is die vlak 4-waarskuwing vir Woensdag (02/11) uitgereik omdat dit na verwagting môre heeldag gaan reën. Hy sê daar word sowat 20 mm se reën vir môre verwag.

Jacobs sê die reën gaan nog tot Saterdag voortduur met reën van ongeveer 10 mm wat vir Donderdag en Vrydag voorspel word.

“Die grond is byna versadig en die risiko van kitsvloede word oor dele van die Oos-Vrystaat verwag.”

Hy sê die afsnylaag wat nou ondervind word, is normale lentereën vir hierdie tyd van die jaar.

Die afsnylaag oor die westelike deel van die land bring reën in die sentrale deel van die land wat ontwrigtend kan wees soos wat die stelsel beweeg.

Volgens die weerkantoor kan tot soveel as 40 mm reën môre oor sommige dele van die Vrystaat val.

“Die grond is byna versadig en die risiko van kitsvloede word oor dele van die Oos-Vrystaat verwag,” sê die weerdiens in ’n nuusverklaring.

Die swaar reën kan lei tot verspoelings, lae sigbaarheid en gevaarlike padtoestande.

Die Mangaung-metro waarsku padgebruikers om versigtig te bestuur, hoofligte aan te skakel, stadiger te ry, versigtig te wees vir voetgangers wat die pad oorsteek en versigtig te wees by riviere en spruite.

In geval van nood, kan inwoners die Mangaung-brandweer by 051-406-6666 of 051-409-6900 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.