Gaste het geproe, gedans, gekuier en behoorlik fees gevier op die 23ste De Oude Kraal WildsKOSfees, wat die naweek aangebied is.
Meer as 1 000 gaste, wat besoekers uit Duitsland insluit, het die fees Saterdag (10/06) bygewoon terwyl musikante besoekers heeldag met goeie musiek vermaak het.
“Proe hier aan die lekker sidefleishies,” het Hedley Binns van die Wilde Weste-skaapkopgilde gaste genooi om van die lekker sagte wangvleis by die skaapkopstalletjie te proe. Ses lede van die gilde het vanjaar 60 skaapkoppe in hul spesiale braaiers gaargemaak.
Die krokodil het vanjaar weer groot aftrek gekry, met die waaghalsiges wat aan dié vleis geproe het. Twee van die talle vrywilligers wat help om die fees ’n sukses te maak, Ferdie en Tanya Smith, het bontgestaan om nuuskieriges te laat proe aan dié witvleis.
Gaste kon ook aan ’n groot verskeidenheid ander wildsgeregte proe wat Marie Lombard en haar span voorberei het.
In die gourmet-saal het sjef Patso Nikolov en die span van die Olive-sjefskool 23 gourmet-happies bedien wat elk voorgesit is saam met wyn van een van die landgoedere wat op die fees verteenwoordig is.
Nikolov en Reinet Enslin van die sjefskool het vanjaar saam met Marie Lombard die wyn uitgesoek wat die beste as deel van smaak-kombinasies bedien kon word. Een voorbeeld is beestong met mostert en room, wat saam met Babylonstoren se 2020 cabernet sauvignon bedien is.
Wildsvleis, asook ’n skaap en twee komberse wat as deel van Bloemskou,Bloemnuusen Radio Rosestad se Brei vir Bloem-projek ingesamel is, is op die geleentheid deur Jeandré Smith opgeveil.
Die geld uit die verkoop van die wildspakette, die skaap en een van die gehekelde komberse het gegaan aan De Oude Kraal se créche, en die geld vir een van die komberse, wat vir R3 000 verkoop is, gaan om wol te koop vir ’n soortgelyke projek wat volgende jaar aangebied word.
Bloemnuus
was vanjaar weer die mediaborg van dié gewilde fees op die De Oude Kraal-landgoed.