Almal wat reg is vir ’n dag van spat en bibber kan kom inspring en drie van Bloemfontein se liefdadigheidsorganisasies op een slag ondersteun.
Die Purpose Splash word op Saterdag 29 Julie by Grey-kollege se swembad aangebied.
Bloemfontein Hospice, CHOC-huis en Sanca Aurora bied dié geleentheid gesamentlik aan.
“Dit gebeur nie dikwels dat drie uiteenlopende liefdadigheidsorganisasies saamwerk om geld in te samel nie,” sê Sonet van Zyl van CHOC-huis.
“Om uit te vind jou kind het kanker, ’n geliefde is sterwend of iemand lei aan een of ander vorm van afhanklikheid, is soos koue water wat jou tref. Ons daag almal uit om te kom deelneem, in ondersteuning van hierdie organisasies en hul werk. Dit gaan groot pret wees,” beloof sy.
Lede van die Christian Motorcyclists Association (CMA) daag ander motorfietsklubs uit om hul leerbaadjies vir swembroeke te ruil en te kom saam swem vir ’n goeie saak.
“Dit neem net so twee, drie minute om deur ’n swembad te swem. Dis koud, maar dis vinnig verby,” sê Warren Stevens van die CMA.
“Pasiënte en hul families wat deur hierdie drie organisasies bygestaan word, moet baie uitdagings oorkom. Kom doen dit vir hulle.”
Deelnemers kan individueel of in spanne van vyf deelneem.
Individuele deelnemers betaal R250, en die vyf lede van ’n span betaal elkeen R200 en kan saam deur die swembad swem. Almal swem eindelik elkeen 50 m.
Toeskouers betaal R20.
Die hekke open om 10:00, en die groot swem vind om 12:00 plaas.
Kosstalletjies sal oop wees, en warm koffie sal te koop aangebied word. Zak Steyn gaan optree.
Rig navrae, en skryf in vir deelname by Marietjie Landsberg by 083-450-5427.