In Bloemfontein is die naam Hein Griesel sinoniem met die Aasvoëlklub.
Hein het in 1998 die Aasvoëlklub gestig – destyds was dit in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) se ketelkelder met die voorlesing van gedigte en ander interessante sessies. Later, met die hulp van sy kreatiewe vrou Lollie – wat intussen oorlede is – het die Aasvoëlklub na Kelly’s View verskuif.
Deesdae is die Aasvoëlklub die tuiste van lekker musiek – plaaslik, sowel as van die voorste name in die musiekbedryf wat gereeld daar optree. Hier kan gaste in die restaurant-teater meegevoer raak.
Deur die jare het Hein ‘n verskeidenheid kreatiewe dinge aangepak. Een daarvan was sy digbundel Die vlieg wen in die ent waarvan byna 500 kopieë verkoop is. Hy het ook ‘n Afrikaanse “Rock” Opera met die titel “Bloemfontein Beach Hotel” geskryf.
Nou het hy weer kreatief geraak en ‘n distopiese kortverhalebundel Water: 13 + 1 kortverhale met byt geskryf wat deur Naledi-uitgewers gepubliseer is. Hy vertel die idee agter die kortverhaalbundel het in sy kombuis ontstaan met ‘n kuier saam met die Afrikaanse sanger Koos Kombuis.
“Ek het vir hom van my idees vertel, en hy het gesê ek moet ‘n boek saamstel.”
Hein het van die eerste werke vir Naledi gestuur, wat gesê het hy moet nog verhale byvoeg.
Verlede week het die eerste besending van die kortverhalebundel by Hein in Bloemfontein aangekom.
Die boek is deurspek met galgehumaor en speel af in die nabye toekoms in Suid-Afrika waar watertekort en hongersnood hoogty vier en enkeles om oorlewing veg in ‘n tipe “Mad Max” bestaan.
Hein gesels op Donderdag 30 Oktober om 18:00 by Naln oor sy nuwe boek.
Bywoning is gratis, maar bespreek vooraf by hom by 084 559 8991 of stuur ‘n e-pos na vriendevannaln@gmail.com.


