Die waterlekplekke wat ’n mens oral in die stad sien – soos die gebarste pyp in Aliwalstraat – is net die oortjies van die seekoei.

Dit is die mening van Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid, nadat hy al die hele week lank spook dat die Mangaung-metro se ingenieursafdeling die groot lekkasie in Aliwalstraat regmaak.

Die pyp wat Sondag (24/07) gebars het, is teen Maandagmiddag reggemaak, maar het Woensdag weer op dieselfde plek begin lek en ’n stroom water oor Aliwalstraat laat vloei.

Die water het teen Vrydagoggend (29/07) steeds in ’n breë stroom reg oor die een baan van dié straat oorkant die Meisieskool Oranje uitgelek.

Lotriet sê die derduisende liters water wat verlore gaan, is meestal ondergronds – en die lekplekke wat bogronds gesien kan word, is net die water wat hoog opgestoot het.

“Talle plekke ondergronds is deurdrenk met water.”

Hy sê daar kan verskeie redes wees waarom die pyp weer Woensdag begin lek het, soos dat die klampe wat gebruik is, nie reg is nie; of dat die modder wat aan die kant van die gat opgehoop het, op die pyp ingeval het.

Hy sê ook dit is moontlik dat die waterdruk te vinnig herstel is nadat dit toegedraai is om aan die pyp te werk.

Inwoners noord van Aliwalstraat in Arboretum sukkel al ’n week lank met lae waterdruk weens die gebarste pyp of geen water, wanneer daar aan die pyp gewerk word.

Lotriet het die perseel Donderdag net voor 13:00 ’n tweede keer besoek, waar geen werk nog weer gedoen is nie, en sê die waarnemende hoof van die ingenieursafdeling, Wallace McLeod, antwoord nie sy talle boodskappe nie.

“Ek het ook korrespondensie oor die lekplek aan die waarnemende stadsbestuurder en burgemeester gestuur,” bevestig Lotriet.

Hy het ook Donderdagmiddag laat aan McLeod ’n boodskap gestuur dat die uitgrawing en water gevaarlike padtoestande skep en dat daar nie genoeg waarskuwingstekens vir motoriste is nie.

Lotriet sê ’n groot hindernis is dat die ingenieursafdeling geen voorraad mag aanhou nie en alles wat nodig is deur ’n proses moet aanvra.

“Dit veroorsaak dat groot lekplekke tot drie weke kan neem om reggemaak te word.”

Hy sê dit is ook waarom talle waterpype oopgegrawe word sodat die probleem vasgestel kan word, en dit dan só ’n oop gat bly – totdat die regte parte wat nodig is om dit reg te maak bekom word.

Bloemnuus het navrae oor die lekplek aan die Mangaung-metro gestuur en sal terugvoering gee sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.