Water weg weens herstelwerk, skoonmaak en troebelheid

Noodherstelwerk is gisteraand gedoen aan die hooftoevoerpypleiding wat water vanaf Maselspoort na die noorde van Bloemfontein voer, wat krane in dié deel van die stad droog gelaat het.


Noodherstelwerk is gisteraand gedoen aan die hooftoevoerpypleiding wat water vanaf Maselspoort na die noorde van Bloemfontein voer, wat krane in dié deel van die stad droog gelaat het.

Qondile Khedama, woordvoerder vir die Mangaung-metro, sê die watersuiweringsaanleg by Maselspoort moes gisteraand tot stilstand gebring word om herstelwerk te doen nadat ernstige krake gevorm het in ’n klep in die hooftoevoerpypleiding wat die stad van water voorsien.

Khedama sê die herstelwerk is suksesvol gedoen, maar daar is watertoevoeronderbrekings in groot dele van die stad terwyl water weer in die stelsel gepomp word.

Woonbuurte wat hierdeur geraak word, is onder meer Bayswater, Noordhoek, Dan Pienaar, Pentagonpark, Universitas, Lilyvale en Northridge. Die middestad en nabygeleë gebiede word ook geraak.

Die Pentagonpark-reservoir word boonop vandag van 08:00 tot 13:00 skoongemaak. Khedama sê dit sal die watergehalte in Hillsboro, Heuwelsig, Pentagonpark en omliggende gebiede verbeter.

Ook in die suide van die stad is waterdruk laer. Dit is weens die voorkoms van troebelheid in die Welbedacht-stelsel. Laer volumes water wat na die reservoirs gepomp word, word gevolglik gelewer. Talle gedeeltes in die suide van Bloemfontein sal dus vandag lae waterdruk ondervind.

“Die metro vra om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak word,” sê Khedama.

You need to be Logged In to leave a comment.