Waterbeperkings kom onder skoot

Bloemfontein en die res van die Mangaung-metro se dorpe gaan steeds onder vlak 3-water­beperkings gebuk ondanks damme wat water aan die metro lewer wat bykans vol is.


Bloemfontein en die res van die Mangaung-metro se dorpe gaan steeds onder vlak 3-water­beperkings gebuk ondanks damme wat water aan die metro lewer wat bykans vol is.

Die Welbedachtdam was Woensdag (12/10) op 100%, die Rustfonteindam op 86% en die Knellpoortdam op 99%.

Weens die waterbeperkings mag swembaddens nie gevul word nie, tuine mag nie met ’n tuinslang natgelei word nie en voertuie en ruite mag nie gewas word nie.

Die probleem blyk te wees dat kommer bestaan oor die metro se vermoë om voldoende gesuiwerde water aan inwoners te lewer, sê Rossouw Botes, DA-raadslid.

Vlak 2-waterbeperkings is in Julie 2015 die eerste keer in 32 jaar in Bloemfontein ingestel. Dit is in 2016 verhoog na vlak 3, wat steeds geld.

Johan Naudé, ’n Bloemfonteinse argitek, sê dit raak nou somer en mense wil tuine natlei.

“Die munisipaliteit keur honderde swembadplanne goed, maar dit mag nie volgemaak word nie.

“Niemand weet wat aangaan nie en ek kry nie antwoorde by die metro nie. Die damme is mos redelik vol. Geen krisis sover ek weet nie,” het hy in ’n WhatsApp-boodskap geskryf.

Botes sê waterbeperkings word in die Staatskoerantafgekondig deur die minister van water en sanitasie.

“Die minister konsulteer gewoonlik eers met die munisipaliteit. Ná so ’n aankondiging plaas die munisipaliteit ’n punt op die sakelys van ’n raadsvergadering vir goedkeuring. Sedert die laaste aankondiging was daar nooit weer ’n punt in die raad om wysigings aan te bring nie,” sê hy.

Sy navrae het aan die lig gebring dat die metro glo bekommerd is oor sy vermoë om genoeg gesuiwerde water aan sy inwoners te kan lewer.

Botes sê in die somer oor spitstye gebruik Mangaung se verbruikers 220 megaliter water per dag – gelyk aan ongeveer 4 400 swembaddens van gemiddelde grootte.

Hy sê ’n jaar nadat waterbeperkings in 2015 in Mangaung ingestel is, het hy die metro in ’n skriftelike vraag gevra oor hoeveel inwoners weens oortreding van die beperkings beboet is. Die antwoord was: net twee, terwyl agt gewaarsku is.

Hy sê die metro het ’n gebrekkige vermoë om die waterbeperkings toe te pas.

’n Droogteheffing van 44% wat saam met die waterbeperkings ingestel is om verbruik te ontmoedig, is wel intussen – net voor die Covid-19-pandemie – opgehef.

Botes sê ’n groot probleem is dat daar nie genoeg water vir Bloemfontein gesuiwer word by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg nie. Dit lewer tussen 40 megaliter en 50 megaliter per dag, terwyl die aanleg die vermoë het om 90 megaliter tot 100 mega­liter water per dag te suiwer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.