Waterdispuut tot op spits gedryf

In ’n vergadering wat laat Woensdag(02/09) tussen die Mangaung-metro en Bloemwater gehou is, is ooreengekom dat seker aspekte in plek moet kom, maar dat die water Woensdagaand nog oopgedraai sal word.


Bloemwater

Bloemwater gaan krane weer oopdraai Nadat ‘n ooreenkoms met die Mangaung-metro bereik is.
In ’n vergadering wat laat Woensdag (02/09) tussen die Mangaung-metro en Bloemwater gehou is, is ooreengekom dat sekere aspekte in plek moet kom, maar dat die water Woensdagaand nog oopgedraai sal word.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê hy het Woensdag laat van die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, gehoor dat ’n ooreenkoms in plek is en dat huishoudings wat water vanaf Bloemwater ontvang, se water weer na normaal sal terugkeer.

Dit volg kort op die hakke van ’n nuusverklaring deur Bloemwater dat die raad dit oorweeg om sy werksaamhede van 1 September af stelselmatig te staak om ’n dreigende ineenstorting van sy diens te verhoed.

Volgens ’n nuusverklaring sê adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro, het die metro met Bloemwater onderhandel met die doel om die saak oor die afbetalingsplan te bespreek.

Hy sê die metro het tussen Julie en Augustus betalings wat R130 miljoen beloop aan Bloemwater gedoen.

“Hierdie bedrae demonstreer die toewyding aan die kant van die metro.”

In sy verklaring sê Bloemwater sy werksaamhede is van Dinsdag (01/09) ingekort om ’n algehele ineenstorting te voorkom.

Volgens Bloemwater was die uitstaande skuld van drie munisipaliteite in Julie R1,4 miljard, waarvan Mangaung net meer as R1 miljard (die bedrag wat onder dispuut is, ingesluit) geskuld het.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê benewens die vermindering van die gebiede in die stad wat water vanaf Bloemwater kry, het daar ook ’n hooftoevoerpyp gebars.

“Dit alleen sal nog twee tot drie dae neem om te herstel. Dele van die stad soos Universitas, Langenhovenpark en Bainsvlei word direk hierdeur geraak.”

Wat die betaling van die metro aan Bloemwater betref, sê Rossouw die metro het in Julie en Augustus vanjaar die eerste betalings aan Bloemwater gemaak.

“Die maandelikse rekening van die metro aan Bloemwater is ongeveer R50 miljoen en meer.”

Hy sê die metro het wel in Mei ’n afbetaling op die ooreenkoms van R14,3 miljoen aan Bloemwater gedoen, maar maandelikse betalings word nie gereeld gedoen nie.

Mofokeng sê die metro is daartoe verbind om te hou by die afbetalingsplan wat aan Bloemwater voorgelê is ná ’n mediasie-vergadering met die nasionale tesourie op 4 Julie.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.