Watertekort in groot dele van Bloemfontein

Groot dele van die suide en ooste van Bloemfontein wat water van Bloemwater ontvang, ondervind sedert Sondag (05/03) tekort aan water.


Groot dele van die suide en ooste van Bloemfontein wat water van Bloemwater ontvang, ondervind sedert Sondag (05/03) tekort aan water.

In ’n verklaring wat Dinsdag (07/03) uitgereik is, sê Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, dat Bloemwater probleme ondervind om ongesuiwerde water na die Welbedacht-watersuiweringsaanleg te pomp.

Probleme het Sondagaand begin en is vermoedelik die gevolg van weerlig wat skade veroorsaak het.

Khedama sê dit het daartoe gelei dat watervlakke in die stad se hoofreservoirs soos Brandkop, De Hoek en Uitkyk wat deur die hooflyn vanaf Welbedacht na Bloemfontein gevoer word, laag is.

“Bloemwater het laat weet dat tegnici onophoudelik werk om die aanleg so gou as moontlik aan die gang te kry,” sê hy in die verklaring.

Hy sê die watergehalte is nie swakker nie, maar daar is minder water beskikbaar en by sommige plekke onderbrekings in die verskaffing. “Daar word geskat dat die herstelwerk sowat 36 uur sal duur.”

Van die woonbuurte wat hierdeur geraak word is Pellissier, Lourierpark, Fauna, Wilgehof, dele van Universitas, Dewetsdorp, Vistapark, Heidedal, Rocklands, Bloemdal, Bloemanda, Fase 2, 3, 4, 5, en 6, Freedom Square, Bergman Square, Grassland, Phahameng, Bochabela, Phelindaba, Bainsvlei, Langenhovenpark en Spitskop naby Heuwelsig.

Khedama sê watertenks is uitgestuur na dele waar wateronderbrekings voorkom.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.