Weermaglede van 1 Spesiale Diensbataljon (1SDB) het hul deel gedoen om op Mandeladag (18 Julie) kinders in nood te help.
Kapt. Johann Prinsloo, kommunikasie-offisier van 1 SDB, het geld en sopbestanddele wat ingesamel is, by die Duimpie-kleuterskool aan Eloise Ackerman, ’n onderwyseres en lid van Die Boelieblik oorhandig.
Boelieblik is ’n projek van lede in en om Bloemfontein wat liefdadigheidswerk doen by verskillende skole in die Vrystaat.
Die Boelieblik ontvang skenkings van verskeie bronne en verskaf dan daagliks etes aan kinders van behoeftige huisgesinne.
Tydens die besoek het die skoolhoof, Michelle du Preez, verduidelik hoe belangrik hierdie daaglikse etes vir die honger kinders is.
In die meeste gevalle sukkel die ouers om kop bo water te hou en gevolglik is daar bitter min geld beskikbaar vir kos asook kosblikkies en etes saam skool toe.
Die kontant wat deur 1SDB oorhandig is aan Boelieblik, kom uit die sakke van die soldate van die eenheid wat dit vrywillig gegee het met projekte deur byvoorbeeld ’n dag siviele drag te dra in plaas van ’n uniform en dan ’n R10-donasie vir dié doel te skenk.