Wanneer jy met ’n byna-driejarige in die strate gaan stap en hy met al die gepaste kamma-verkeersgeluide én melodrama op sy plastiekskopfietsie voor ’n gapende kraak in die teer vassteek en geskok “gaatjie!” skree, kry jy amper lag.
Amper, want dis eintlik nie snaaks wanneer jy onthou hoe jy kort gelede deur ’n volgroeide slaggat in Frans Kleynhansweg is wat jou deeglik die skrik op die lyf, én geld uit die sak, gejaag het nie.
Jy verstaan ongelukkig al te goed hoe daardie einste “gaatjie” weens ’n paar goeie reënbuie, heelparty motorbande wat dit raaktrap en ’n paar swaarvoertuie wat onvermydelik daaroor gaan, sal uitkalwe tot ’n band-en-vellingvreter van formaat.
Die kinderlike eerlikheid oor daardie padgevaar, sonder dat enige grootmens die seuntjie al op so iets gewys het, gaan daagliks by ons as motoriste verby.
Ons dink nie meer aan slaggate as gevaarlik nie – eerder as ’n bykomende frustrasie op paaie wat met genoeg irritasies besaai is.
Daar is die gereelde verskynsel van verkeersligte wat af is weens beurtkrag; motoriste wat noodligte aansit en dan eenvoudig doen wat hul lus kry; voertuie wat nie in hul baan bly nie; boonop onderdak-parkeerruimtes waar geen verkeersreëls skynbaar geld nie.
Oral in die stad sien ’n mens diep slaggate wat met geel verf omkring is. Hoeveel dit werklik help om as waarskuwing te dien, weet geen mens nie, maar dit herinner nogal aan die goeie ou speurrolprente waarin die slagoffer van misdaad se buitelyne op die vloer of teer gemerk is: die onsigbare dood, misleidend komies omlyn.
Waar jy eergister nog gemaklik gery het, kan daar vandag twee slaggate op jou wag.
Dit verg net een gebarste pyp of riooloorstroming (albei glad nie meer ongewoon nie) wat oornag die reeds vernielde teer laat verbrokkel.
Nou moet ’n mens darem ook erken, net so vinnig soos wat hulle verskyn, word hulle soms reggemaak. Dis nie buitengewoon om te sien hoe voertuie vir “spookgate” uitswaai waar herstelwerk onverwags gedoen is nie, soos nou die dag in Arboretumlaan – dankie aan die weldoeners.
As jy nou eers deur so ’n gat is, besef jy dat die mees basiese verkeersreëls al hoe belangriker raak.
Hou ’n beskaafde volgafstand. Nog meer as dit, hou nog ’n bietjie terug. As jy nie weet die gat is daar nie, is daar nog minder kans dat jy dit betyds gaan raaksien wanneer die motor voor jou boonop nog eers daaroor ry.
Ook, as die motoris voor jou ’n gat sien waarvoor hy wil briek aanslaan, sal jy nie sommer agterin hom vasry nie.
Verminder spoed. Daarmee is jy die groot skrik, die gevaarlike uitswaai en sommer die moeilikheid voor.
Verminder spoed wanneer dit reën. In elk geval, omdat die pad nat is, maar ook omdat daardie gate feitlik onsigbaar word wanneer hulle vol water staan.
Ook, sit maar jou ligte aan, dit help om gesien te word.
Dis nou jou hoofligte. Hou die noodligte vir nood. ’n Mens weet nooit wanneer die vellingvreter jou byt nie.