Gekroek. Verneuk. Ingeloop.
Deesdae is dit omtrent die verstekgevoel.
Jy betaal belasting en munisipale rekeninge, maar moet self jou straat skoonhou en jou sterre dank vir maatskappye wat reuse-slaggate opvul, hoewel dit nie hul werk is nie.
Dit terwyl die sogenaamde werkers na wie jou belasting gekanaliseer word, salig iewers sloer – as hulle ooit sloer, want om te sloer beteken dat jy met iets besig is, hoewel stadig.
Daar is ook ander plekke waar ek soms voel ek word gekroek. En as jy voel dat jy gekroek is, voel jy dom, onnosel en oor die algemeen teleurgesteld dat jy iemand durf vertrou het.
Bykans ’n jaar gelede koop ek ’n motor splinternuut by die handelaar. Die motor kom met ’n kwart tenk petrol. Ek reken hulle kon eerder minder afslag gee en die tenk volmaak. Dit gaan immers oor persepsies.
In stede daarvan dat ek opgewonde huis toe ry, bedink ek die dom praktyk wat seker geleer is by die drukkerbedryf wat nie die inkhouers volmaak nie. Dan kos die ink later duurder as die drukker.
Maar dit is nie waar my gevoel dat ek ingeloop is, stop nie.
Die nuwe motor se elektroniese horlosie verloor tyd. Ek voel verneuk – want ek moet nou deel van daardie kwart tenk petrol uitry om na die handelaar se werkwinkel te gaan.
Die werkwinkelbestuurder laat my dom voel en maak dieselfde verstellings as wat ek gemaak het.
’n Week of twee later verloor die horlosie weer tyd – en ek ry nog petrol uit.
Na dieselfde werkwinkelbestuurder. Dieselfde storie.
Behalwe dat ek bykans ’n uur lank wag vir iemand om ’n minuut lank verstellings te doen. Verstellings wat ek weet nie gaan werk nie.
Dis nie meer net die horlosie wat tyd verloor nie. Ek ook.
Die motor is nou bykans ’n jaar oud. Die horlosie verloor steeds tyd. Ek voel steeds gekroek. Verneuk. Ingeloop.
Einde verlede jaar beland my vrou in die hospitaal. ’n Reeks dokters kom loer gereeld in, loer na die notas op die bed se voetenent en gee die verpleegsters raad.
Teen stywe fooie.
Alles in orde – maar wanneer sy uiteindelik ontslaan word, weet ons nie werklik wat die volgende stappe is nie.
Die dokters wat met haar gewerk het, is nie telefonies beskikbaar nie, en ons word deur twee dokters se spreekkamer aangeraai om maar ’n maand te wag en te sien of sy beter word.
My kinders se klasse by die universiteit begin en – soos wat nou die gewoonte by sommige van ons land se universiteite is – is daar ontwrigting van klasse en onsmaaklike voorvalle op die kampus. Die kinders voel asof hulle van ’n studentelewe ontneem word. Gekroek. Verneuk.
As jy verneuk word, impliseer dit dat jy ’n mens of ’n stelsel vertrou het.
Tog moet dit ’n verskriklike lewe wees as jy niemand vertrou nie.
So, kom ons vertrou daar is eerlike handelaars, kundiges wat omgee en politici wat eendag sal besef dat hulle in diens van die mense is.
Intussen moet ons maar net die verskil wees wat ons graag wil sien.
Anders kroek ons onsself uit die vreugde van die lewe.