#Weesdieverskil-fees in Bfn bekendgestel

Bloemfonteiners word genooi om ’n verskil te maak in ’n splinternuwe fees wat die ATKV-Bloemfontein-gemeenskapsteatertak op 3 Desember by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gaan aanbied.


Bloemfonteiners word genooi om ’n verskil te maak in ’n splinternuwe fees wat die ATKV-Bloemfontein-gemeenskapsteatertak op 3 Desember by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gaan aanbied.

Ebeth Wilson, van dié ATKV-tak, sê hulle streef daarna om ’n positiewe verskil te maak en hoop, aktivisme, verandering en aksie te weeg te bring.

’n Geselligheid is Woensdag (12/10) by die Oorlogsmuseum aangebied waarop die fees bekend gestel is.

“Die fees word beplan as die hoogtepunt van ’n pad wat ons die afgelope jaar met die Jean Webber-huis gestap het om hulle op verskeie maniere te ondersteun,” sê Wilson.

Jean Webber huisves 37 mense met erge gestremdhede wat deur die Vereniging vir Mense met Gestremdhede bestuur word.

Die idee met die #Weesdieverskil-fees is om verskillende organisasies betrokke te kry om saam te werk aan hierdie grootste geldinsamelingsprojek vir Jean Webber.

“Ons idee is om elke jaar ’n ander liefdadigheidsorganisasie op hierdie wyse te ondersteun.”

Die projek het vroeër vanjaar begin toe die tak ’n kisvrieskas aan Jean Webber geskenk het en die publiek op 28 Mei genooi het om kos vir die huis te skenk. Skenkings van R1 150 is ook tydens die geleentheid deur lede van die publiek geskenk wat aan Jean Webber oorhandig is.

In Junie het die ATKV ’n groentetuin by die vereniging se Kopano Beskermde Werkswinkel waar mense met gestremdhede handwerkitems maak, ingerig.

Jeanine Le Hardy, verpleegkundige en bestuurder by Jean Webber, sê die hulp wat die plaaslike ATKV-tak die afgelope jaar gemaak het, maak ’n groot verskil.

“Die deep freeze was werklik ’n wonderlike skenking en ons sien baie uit na die fees in Desember.”

Talle van die inwoners het nie familie of vriende wat hulle geldelik ondersteun nie en daar is ’n groot tekort aan volwasse doeke, toiletware asook geldelike skenkings.

“Ons idee is om elke jaar ’n ander liefdadigheidsorganisasie op hierdie wyse te ondersteun.”

Een van die behoeftes van die inwoners is om net so een keer ’n maand ’n vleisbraaigeleentheid te hê.

Wilson sê hulle hoop met hierdie projek word die publiek bewus van die huis en sy inwoners en watter verskil gemaak kan word wanneer individue en instansies betrokke raak.

Die program op Saterdag 3 Desember begin met ’n pretwedloop waarna ’n kunsmark met kosstalletjies en ’n kinderspeelplek om 08:00 open.

Daar word ook Boeresport, optrede deur plaaslike sangers, ’n boekbekendstelling en ander aktiwiteite beplan.

Een van die hoogtepunte sal ’n Kersspel deur lede die ATKV se Bloemfonteingemeenskapsteatertak wees.

Jacobus Silwer het ook aangebied om gratis tydens die geleentheid op te tree.

Die inwoners en personeel van Jean Webber sal tydens dié dag die eregaste wees en gaan bederf word met ’n spitbraai-ete en Kersgeskenke.

Die dag se verrigtinge sal afgesluit word met die saamsing van Kersliedjies.

Instansies wat by dié fees betrokke wil raak, kan vir Wilson by 083-560-9178 skakel.

Hou Bloemnuus dop vir meer inligting oor dié fees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.