’n Fees van musiek, ’n prettige skattejag met ’n R2 000-kontantprys vir die wenner, is van die opwinding waarna besoekers aan vanjaar se #WeesDieVerskilfees op Saterdag 2 November by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein kan uitsien.
Die hekke open om 09:00 en gaste kan hier tussen die kosstalletjies en kunsmark na allerlei interessanthede soek.
Ebeth Wilson van die ATKV-tak Gemeenskapsteater, sê vanjaar word dié fees ten bate van die Vereniging vir Blindes Vrystaat aangebied.
Aktiwiteite waarna feesgangers kan uitsien, sluit in Bloemfonteinse skrywer Martin Schwella se produksie Georgie se radiovir maatjies van twee jaar tot ongeveer tien jaar oud, wat om 10:00 in die amfiteater aangebied word.
Gesinne kan aan ’n skattejag deelneem. Hiervoor word ’n leidraadkaart teen R20 by die toegangshek gekoop. Ontrafel die leidrade en kry ’n plakker by elke bestemming. Gooi die voltooide leidraadkaart in die houer by die amfiteater.
Die wenner word om 13:45 by die amfiteater aangekondig, en R2 000 is op die spel. Indien die wenner boonop die dag van die fees by die stalletjie van die SANBS bloed geskenk het, word dié prysgeld na R2 500 verhoog.
Om 11:30 volg ’n optrede deur Zak Steyn, wat vermaak gaan verskaf terwyl gaste tussen die stalletjies rondloop.
Feesgangers kan om 12:45 ’n gratis begeleide toer van die museum onderneem.
Dit sluit ’n spesiale sensoriese tafel in wat die museum saamstel om bewusmaking te skep van hoe mense wat ’n gesiggestremdheid het, dinge ervaar.
Die Voortrekkers van die Hoërskool Sentraal gaan boeresport en ander pret aanbied.
In die Danskraal gaan die Laerskool Willem Postma, Eduplus en The Dance Connection items lewer.
Die plaaslike gospelband Herleef tree om 14:00 op.
Toegang kos R20, en kinders jonger as 12 jaar kry gratis toegang.