Weldoener skrik nie vir sny

Vir een inwoner van Fichardtpark is die instandhouding van ’n park naby sy huis ’n gegewe.


Vir een inwoner van Fichardtpark is die instandhouding van ’n park naby sy huis ’n gegewe.

Frikkie Coetsee sny al die afgelope jaar gereeld die gras in Strydompark in dié woonbuurt.

Hy sê betrokkenes by die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) doen wonderlike werk om verkeerseilande en parkies in die buurt netjies te hou.

“Selfs hulle kan nie elke openbare ruimte in die woonbuurt se gras sny nie. Strydompark is gróót,” sê hy.

“Die FWA sny getrou die speelparkie, maar ek sny die res van die park met ’n trekkertjie en my randsnyer.”

Coetsee sê dit neem hom so ’n maand om die hele park te sny.

“Dan moet ek weer van voor af begin.”

Die park in Strydomstraat, Van der Post- en Teunissensingel is net agter die Hoërskool Fichardtpark.

“Die leerlinge loop gereeld deur die park. Dit is veiliger vir hulle as die gras kort is.

“Met die baie reën wat ons die afgelope maande gehad het, hóór ’n mens omtrent die gras groei, so ek sny maar elke dag.”

Nie net sny hy die gras hier nie, hy het ook onlangs van die bome in die park gesnoei en die takke weggery.

Inwoners rondom die park is dankbaar vir dié onbaatsugtige diens wat hy lewer om die omgewing netjies te hou.

Dit is net jammer dat mense hul vullis en bourommel hier stort en só die netjiese park ontsier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.