’n Pikswart naweek vir Athalia-uitreik het verander in ’n week van hoop met nuwe skootrekenaars wat die rekenaars wat uit dié liefdadigheidsorganisasie se kantoor gesteel is, vervang het.
Ans Coetzee, direkteur van Athalia, was Dinsdag (15/11) nog moedeloos nadat iemand oor die naweek die diefwering by die kantoor uitgebreek het en drie skootrekenaars met al Athalia se inligting op, gesteel het.
Die twee skenkers was Deon de Groot en die Geluksdal-boerevereniging.
Henco Venter van Tech Power Gaming het die rekenaars teen ’n spesiale prys aangebied en self ook ’n bydra gemaak.
“Dit is vir ons ’n groot uitkoms,” het Coetzee oor die skenking gesê. “Ek weet nie waar ons die geld sou kry om die rekenaars te vervang nie, want ons is afhanklik van skenkings om die organisasie se wiele geolie te hou.”
Athalia verskaf drie etes per dag aan 160 inwoners in agt huise.
Die meerderheid van die inwoners ontvang staatspensioen (Sassa).
“Die verblyfrekeninge en salarisrekeninge word alles elektronies gedoen en alles het letterlik tot stilstand gekom ná die inbraak,” sê Coetzee.
“Ek is so dankbaar teenoor almal wat gehelp het om hierdie skenking moontlik te maak, asook al die skenkers wat ’n bydra tot Athalia maak.”