Welkom terug, ná twee jaar, aan die prestigeryke Vrystaat Sportsterre-dinee waar uitblinkers op die sportveld vir hul uitsonderlike prestasies vereer word.
Die glansaand, aangebied deur Sentraal24 en die Universiteit van die Vrystaat (UV), vind op Donderdag 13 Oktober by Monte Bello in Bloemfontein plaas.
Die gasspreker is die sprankelende Vanes-Mari du Toit, voormalige Protea-netbalspeler – wat ook as ’n TV-aanbieder, onder meer van Kwêla, en motiveringspreker bekend is.
Vanjaar is die eerste keer dat Sentraal24 en die UV saamwerk as vennote vir die aanbieding van Vrystaat Sportsterre nadat Covid-19 dié hoogtepunt op die plaaslike sportkalender in 2020 en 2021 gefnuik het.
Volksblad, wat in 2017, 2018 en 2019 met die UV hande gevat het, bly ’n mediaborg.
Die dekking vir die geleentheid brei wel uit deurdat Sentraal24 nou as deel van Media24 se plaaslikekoerante-span die stokkie oorneem as organiseerder, tesame met die UV.
Dié groep se weekkoerante Express, Bloemnuus, VrystaatKroon en Vista gaan dus nou ook naas Volksblad voor en ná die Sportsterre-dinee oor die benoemdes en hul prestasies berig.
Volksblad het in 2015 op versoek die ontbinde Vrystaatse Sportmedia, vroeër bekend as die Vrystaatse Sportskrywersvereniging, se jaarlikse bekroningsaand oorgeneem.
Die Sportskrywers-dinee was sedert die 1950’s ’n jaarlikse instelling met sportlui soos Gary Player, Karen Muir, Morné du Plessis, Hestrie Cloete, Penny Heyns en talle ander onder die gassprekers.
In 2016 het die UV as mede-aanbieder toegetree en het dit ’n dubbeldoor-geleentheid geword – waar die UV sy sportuitblinkers en Volksblad Vrystaatse presteerders vereer het.
Vorige gassprekers was: Wayde van Niekerk en Ans Botha in 2016 (kort ná sy Olimpiese goue medalje én wêreldrekord); Franco Smith in 2017 (ná die Cheetahs se verowering van die Curriebeker); Neil Powell in 2018 (nadat die Blitsbokke die sewesrugby-wêreldreeks gewen het) en Ryan McLaren, Protea-krieketspeler, in 2019.
Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, was alreeds bevestig vir 2020 toe Covid-19 toeslaan.
Op ’n vergadering oor Sportsterre 2022 het prof. Francis Petersen, vise-kanselier en rektor van die UV, en Jeannine van Zyl, Sentraal24-bestuurder, albei die voortsetting van die geleentheid ter erkenning van sportprestasies en as ’n gemeenskapsbydrae verwelkom.
Mentorskap en rolmodelle in sport is ook weer die tema van vanjaar.
Die geleentheid word danksy borgskappe moontlik gemaak.
¦Plek op die spogbanket is teen R4 200 per tafel (vir tien gaste) of R420 per enkelkaartjie beskikbaar.
Rig navrae aan Ainslee Oosthuyen by ainslee@spottedapple.co.za of 074-120-4450.